“Ontvoerders sal Korkie nie teregstel nie”

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

‘n Bemiddelaar het gesê Al-Kaïda-militante, wat die Suid-Afrikaanse onderwyser Pierre Korkie in Jemen ontvoer het, sal hom, ondanks hul sperdatum vir die oorbetaling van ‘n losprys van R32.5 miljoen, nie teregstel nie.

Korkie (56) en sy vrou, Yolande, is in Mei 2013 in Taiz ontvoer deur lede van Al-Kaïda. Yolande is verlede maand met behulp van die organisasie Gift of the Givers, vrygelaat.

Korkie is glo baie siek, maar “lewe nog en die vooruitsig van sy teregstelling is uitgesluit,” het ‘n bemiddelaar van een van die stamme aan AFP gesê. Die bemiddelaar het gesê hy is in kontak met die ontvoerders. “Die situasie bly sensitief en hulle kan nie die gyselaar sonder ‘n losprys vrylaat nie.”

Die ontvoerders het ‘n vorige sperdatum van 17 Januarie gestel, en hulle het gedreig om hom te vermoor as hulle nie die losprys ontvang nie. Hulle het ná onderhandelings dié sperdatum met drie weke uitgestel.

Die bemiddelaar het Saterdag gesê indien die Suid-Afrikaanse owerhede aandui dat hulle bereid is om op die eise van die ontvoerders te reageer, die sperdatum dalk weer uitgestel kan word.

Yolande het Vrydag in Johannesburg weer die ontvoerders om genade gesmeek. Sy sê haar man, wat ‘n mantelvliesbreuk het, is te siek om sy aanhouding te oorleef. “Pierre is ‘n onskuldige en eerlike persoon wat die arm mense deur sy opleiding bedien het,” het sy in ‘n video-opname gesê. Klik hier om meer te lees en die video te sien.

Die Gift of the Givers het vandeesweek gesê daar is geen reaksie van die ontvoerders nie. Die ontvoerders het dié humanitêre organisasie daarvan beskuldig dat hulle die losprys, wat die Suid-Afrikaanse regering glo uitbetaal het, gesteel het. Die groep glo dat Ebrahim Ebrahim, adjunkminister van buitelandse sake wat na Jemen gereis het om Korkie se vrylating met die owerhede in Jemen te bespreek, geld saamgebring het. Die Suid-Afrikaanse regering het dié gerugte ten sterkste ontken.

Die egpaar het vier jaar lank in Jemen gebly en gewerk.

Honderde mense is al die afgelope 15 jaar in Jemen ontvoer. -SAPA

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.