Ontvoeringsdrama: Musikant ook aangekla

Khuli Chana

Khuli Chana

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord teen die musikant Khuli Chana.

Chana is vroeg Maandagoggend by die New Road-afrit in Midrand deur polisielede gewond toe hulle hom glo as ʼn ontvoerder aangesien het. Die polisie was glo besig met ʼn middernagtelike operasie om ʼn ontvoerder vas te trek. Chana het glo in ʼn soortgelyke motor gery as ʼn verdagte wat by ʼn kaping betrokke was. Chana het glo weggejaag toe die polisie sy motor probeer stop het waarna polisielede op sy motor losgebrand het. Kol. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, sê hulle het intussen beeldmateriaal van kringtelevisiekameras bekom en verklarings van ooggetuies gekry oor Maandagoggend se gebeure. Malila sê die bewyse wat bekom is stem ooreen met polisielede op die toneel se bewerings dat Chana die polisiebeamptes probeer omry het. Hy word nou van poging tot moord aangekla.

Erich Motsepe, ʼn speurder verbonde aan die Silverton-polisiestasie, is intussen in hegtenis geneem in verband met die ontvoering. Hy het Woensdag in die Germiston-streekshof verskyn en sal weer op 11 November verskyn wanneer hy na verwagting om borg sal aansoek doen. Die polisie soek intussen na vyf ander mense in verband met die ontvoering wat Sondag plaasgevind het. Die verdagtes het ʼn sakeman ontvoer en ʼn losprys van R100 000 van sy familie geëis. Motsepe is in hegtenis geneem nadat hy die losprys afgehaal het. Die slagoffer se familie is beveel om die losprys by die Caltex-vulstasie by die New Road-afrit te los. Dit is hier waar polisiebeamptes Chana se motor gesien het en hom vir die ontvoerder aangesien het. Die ontvoerde slagoffer is intussen ook ongedeerd opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.