Onwettige myners dood aangetref in JHB

Argieffoto

Die liggame van twee onwettige myners is Maandag in ʼn ou myn in Primrose naby Germiston, Gauteng, opgespoor.

“ʼn Derde liggaam is vermoedelik steeds sowat 600m ondergronds in ʼn ongebruikte myn,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Nooddienste het die mynreddingspan ontbied om die derde liggaam op te spoor.”

Die reddingspoging sal na verwagting Dinsdag gedoen word.

“Twee lyke is deur ander onwettige myners bogronds gebring. Dié myners is tans in aanhouding.”

ʼn Man, wat aanvoer dat hy onwettig gemyn het, beweer hy en ʼn groep myners is deur onbekende mense aangeval. Verskeie skote is glo tydens die aanval gevuur. Drie van sy vriende is dood en hy is in die agterstewe geskiet.

“Hulle mynstof, selfone, kos, primusstofies en potte is glo gesteel. Ná die aanvallers weg is, het hy uit die skag gekom en die saak by die polisie aangemeld,” het Dlamini verduidelik. “Agtien van die mans, wat vermoedelik Zimbabwiërs is, is in hegtenis geneem en sal van betreding, onwettige immigrasie, en moontlik onwettige mynaktiwiteite aangekla word, aangesien hulle met sakke vol mynstof aangetref is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Ek kan net eenvoudig nie verstaan hoekom praat julle van Germiston in Johannesburg nie!!! So word daar ook gepraat van Kempton Park in Johannesburg en ander Oos-Randse dorpe en stede wat skielik in Johannesburg is. Mense hierdie plekke is in Ekurhuleni en het net mooi niks met Johannesburg te doen nie. Johannesburg is ‘nb metro op sy eie en die destydse Oos-Rand, nou Ekurhuleni, is ‘n metro op sy eie, so hoekom dan die gebied sommer gerieflikheidshalwe by Johannesburg inlyf in julle beriggewing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.