Onwettige myners se liggame sal nie verwyder word nie

Een van die onwettige myners wat anoniem wil bly. Foto: James Oatway (Bron: Times Live)

Die liggame van onwettige myners wat by die Gravelotte-goudmyn op die Oos-Rand vasgeval is, sal moontlik nie verwyder word nie, het die vakbond Solidariteit Maandag gesê.

“Die tonnel sal moontlik verseël word. Dit is ʼn tragiese situasie,” het adjunk uitvoerende hoof, Gideon du Plessis gesê. Hy het gesê dat reddingswerkers die departement van minerale hulpbronne sal aanraai om die myntonnel af te seël, aangesien dit te gevaarlik is om die res van die liggame uit te haal. Die soektog na ten minste 20 onwettige myners is Vrydag afgelas.

Du Plessis sê die reddingspan kon slegs een liggaam herwin weens die onstabiliteit van die gebied. Die groep mans was glo met onwettige mynaktiwiteite besig toe hulle weens ʼn rotsstorting ondergrond vasgeval het.

Reddingswerkers het later op nog ʼn groep mans afgekom wat besig was om onwettig te myn. “Hierdie mans het bevestig dat ʼn groep van ten minste 20 mense in die rotsstorting omgekom het,” het Du Plessis gesê. Die reddingswerkers het gepoog om die mans te oorreed om die gebied te verlaat, aangesien die myn afgeseël sal word en hulle moontlik binne-in die tonnel vasgevang kan word indien hulle nie die myn betyds verlaat nie.

Vier mans het met goudkonsentraat ter waarde van sowat R310 gevlug. Vyf het ineengestem om die myn te verlaat op voorwaarde dat hulle nie vervolg sal word nie. Die ander 28 onwettige myners het geweier om die perseel te verlaat. Grootvlei-myn word deur president Jacob Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma, en voormalige president Nelson Mandela se kleinkind, Zondwa Mandela, besit. Die myn is naby Grootvlei, waar voormalige Big Brother-deelnemer, Brad Wood, en vier ander mans onwettige myners verlede jaar na bewering doodgeskiet het. Wood, wat die hoof van sekuriteit by Aurora se Grootvlei-myn was, tesame met medebeskuldigde perseelbestuurder, Nicholas Pretorius, Herbie Trouw, Willem Coetzer en Mickey Mazaan is na die moord in Augustus 2011 onskuldig bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.