Twee onwettige myners is dood en een ernstig beseer, nadat hulle deur metaangas in ʼn verlate mynskag in Roodepoort oorweldig is.
Nana Radebe, ʼn woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê hulle het die eerste persoon Maandagaand om 20:00 by die Durban Deep-myn gevind.
“Die beseerde man is op die toneel gestabiliseer en in ʼn stabiele toestand na die hospitaal geneem. Een van die oorledenes se liggaam is om 02:00 na die oppervlak gebring. Hy is vermoedelik dood as gevolg van die giftige gas. Die derde persoon se liggaam is nog soek,” het Radebe gesê.
Volgens Radebe is die operasie uitputtend vir die spanne, omdat hulle spesiale respiratoriese maskers moet dra.