Onwettige plakkers op boer se plaas

Die huis wat Kgwete op Joubert se plaas gebou het Foto: Rapport

Roelof Joubert, ‘n boer van Burgersfort in Limpopo, het ‘n aansoek by die hof ingedien om onwettige plakkers van sy grond af te probeer kry.

Een van die plakkers het glo ‘n spoggerige dubbelverdiepinghuis op sy plaas gebou, berig Rapport. Die eerste plakkers het in 2003 op Dresden aangekom. Weens watertekort boer Joubert nie meer op die grond nie, maar verhuur die geboue aan sakelui. Shaealegolo Kgwete, die plakkers se selfaangestelde leier, het vir homself dié weelderige huis gebou. Die plakkers beweer Kgwete het die grond aan hulle “verkoop”.

Joubert se klagtes by die polisie en pleidooie aan die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en Groter Tubats se plaaslike raad het geen vrug afgewerp nie. Die munisipaliteit het in 2010 dienste aangelê na waar die plakkers woon.

Joubert het hom nou na die reg gewend. “Dresden is my familieplaas en my huis en ek sal dit wat wettig myne is, beskerm. Ek is nie ’n muis nie, maar ’n man,” sê Joubert.

Kgwete het glo Saterdag aan Rapport gesê hy wil geen kommentaar lewer oor die aantygings teen hom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.