Onwettige poskantoorstaking raak gewelddadig

poskantoor

Foto: Leroy Venter

Die Johannesburgse polisie het Dinsdag aan Maroela Media bevestig hulle is bewus van twee gevalle waar onwettige stakende poskantoorwerkers gewelddadig geraak het.

Leroy Venter, ʼn inwoner, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy was Maandag omstreeks 12:00 by die poskantoor in Booysen om sy bestuurderslisensie te hernu toe sowat 100 stakers met stokke, bakstene en knopkieries by die poskantoor opgedaag het. Die stakers het die poskantoor se ruite stukkend gegooi en Venter en vier ander klante was in die poskantoor vasgekeer. “Een van die klante het my gevra of ons vandag doodgemaak gaan word,” het Venter gesê. “Dit was ʼn snaakse gevoel, maar ek was nie regtig bang nie.”

Venter het ʼn foto geneem van ʼn voertuig wat ook gestenig en omgegooi is.

Ao. Gorden Billing, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy het verder gesê ʼn groep betogers het ook Dinsdag twee poskantoorvoertuie met klippe in Ormonde bestook.

“Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek sake van opsetlike saakbeskadiging,” het Billings aan Maroela Media gesê.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het Dinsdag in ʼn verklaring bevestig dat ʼn onbeskermde staking posverspreiding in sekere dele van die land beïnvloed.

Volgens Christopher Hlekane, woordvoerder van die Poskantoor, het die staking Maandag begin. Dit is nog nie duidelik watter gedeeltes van die land hierdeur geraak word of hoeveel werknemers aan die staking deelneem nie.

Hlekane het gesê indien werknemers nie werk nie, ontvang hulle nie ʼn salaris nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.