Ooggetuies gesoek ná beweerde polisiebrutaliteit-voorval

Argieffoto

Argieffoto

Errol Smith, ʼn 50-jarige sakeman en inwoner van Roodepoort in Gauteng, is op soek na ooggetuies wat Woensdagaand ʼn vermeende polisiebrutaliteit-voorval in Randfontein gesien het, aangesien hy bekommerd is oor die welstand van die vermeende slagoffers.

“Ek het gisteraand omstreeks 19:45 by die kruising van Main Reef- en Homesteadweg in Randfontein by ʼn rooi verkeerslig stilgehou,” het Smith Donderdag aan Maroela Media gesê. “Drie polisievoertuie, waarvan een ʼn vangwa was, het ʼn silwerblou luikrugvoertuig in die pad by die verkeerslig afgesper.”

Volgens Smith was daar tussen ses en agt manlike en vroulike polisiebeamptes op die toneel. “Ek het gesien hoe hulle die motoris hardhandig agterin die vangwa inboender. Die persoon was klein gebou en ek kon nie die persoon se geslag uitmaak nie.”

Hy sê ʼn netjies-geklede wit vrou het uit die passasierskant geklim en langs die voertuig gaan staan. “Dié vrou het vermoedelik vir die beamptes ʼn vraag gevra en sy het daarna haar rug op hulle gedraai. Die volgende oomblik het ʼn manlike polisiebeampte haar van agter af geduik. Sy het haar balans verloor en teen die kant van die voertuig geval. Sy het groot geskrik en weer in die passasierskant van die voertuig teruggeklim, seker om skuiling te soek. Daar was ʼn jong man agter in die voertuig, hy het baie getraumatiseerd gelyk,” het Smith gesê.

Volgens Smith is die vrou toe glo aangesê om na die bestuurder se kant van die voertuig te beweeg. “Kort daarna het ʼn ander beampte op haar geskree dat sy nie kan bestuur nie en weer na die passasierskant moet skuif. ʼn Manlike beampte het toe die bestuursitplek ingeneem.”

Smith sê die vrou het glad nie aggressief voorgekom nie, en die behandeling wat sy deur die polisebeamptes ontvang het, was “oordadig, onnodig en barbaars”. In daardie stadium was die verkeerslig groen en Smith het weggery uit vrees dat as hy sou intree, die beamptes hom moontlik ook sou teiken.

“Ek is bekommerd of die vrou en jongman veilig is,” sê Smith. “Ek weet nie wat gebeur het nadat ek gery het nie. Om te sien hoe die beamptes die vrou hanteer het, is verskriklik ontstellend.”

Smith het ʼn verklaring oor die aangeleentheid saamgestel en dit aan AfriForum, die Menseregtekommissie, die Openbare Beskermer, Randfontein-polisiestasie se bevelvoerder asook die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat gestuur.

Nantes Kelder, hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, versoek enigiemand met meer inligting oor die voorval om hom by 086 10 200 30 te skakel of ‘n e-pos te stuur na [email protected].

Maroela Media het ʼn navraag aan die betrokke polisiestasie gerig. Kapt. Appel Ernst, die stasie se woordvoerder, het gesê sy sal die voorval ondersoek en later kommentaar lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Dan se hulle n mens moet die polisie vertrou maar hulle is barbare net soos die barbare wat oumense martel en dood maak soek net geld en vuurwapens om blankes uit te moor ek se nie alle polisie nie maar n mens kan hulle nie vertrou nie jammer

Deon ·

Mense koop vir julle kameras wat julle in julle voertuie kan installeer. So kan ons die wèreld warm maak vir die swart regime se agente. Hulle sal naderhand nie meer kan keer soos hulle dade op die lappe kom nie en ten minste sien almal wat het van die demoktasie geword. Dit is in die toilet af …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.