Ooreenkoms in steenkoolbedryf bereik

Mine+miners+gearDie Kamer van Mynwese sê vakbonde wat mynwerkers in die steenkoolbedryf verteenwoordig het Maandag ʼn loonooreenkoms onderteken.

“Na fasilitering deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het vakbonde die steenkoolvervaardigers se aanbod aanvaar en ʼn ooreenkoms onderteken,” het die Kamer in ʼn verklaring gesê. Werkers in kategorieë vier en vyf se lone sal met minstens 8,5% verhoog word. “Werkers by Anglo American Thermal Coal en Exxaro Coal Mpumalanga in kategorieë vier en vyf sal ʼn verhoging van 9,5% kry terwyl werkers in kategorieë ses, sewe en agt ʼn 8,5%-verhoging sal kry.” Motsamai Mohlamme, die Kamer se hoofonderhandelaar, sê die volhoubaarheid van die myne, afhangend van die grootte van hul bedrywighede, het die verskillende persentasies bepaal. “Ons het gekyk hoe die maatskappye gestruktureerd is en die fokus op die myn se bekostigbaarheid en volhoubaarheid geplaas…kleiner bedrywighede kan nie bekostig wat groter bedrywighede kan nie.” Al die mynmaatskappye, behalwe Msobo Coal, Koornfontein en Optimum, sal volgende jaar verhogings bo die verbruikersprysindeks gee met ʼn minimum verhoging van 8%. Die steenkoolvervaardigers wat deur die Kamer verteenwoordig word, is Anglo American Thermal Coal, Exxaro Coal, Umsobo Coal, Kangra Coal, Delmas Coal en GlencoreXstrata, wat Optimum en Koornfontein insluit. Die vakbonde is die National Union of Mineworkers (NUM), Solidariteit en Uasa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.