Oorlewende van Joodse volksmoord deel getuienis

Lily Ebert saam met haar agterkleinseun, Dov Forman. (Foto: Dov Forman/Instagram)

In Maart 1944 het die 20-jarige Lily Ebert se lewe onherroeplik verander toe sy, haar ma, jonger boetie en drie sussies na die Auschwitz-Birkenau-konsentrasiekamp in Pole gestuur is.

Op Donderdag 28 April het sy en haar agterkleinseun Dov Forman haar verhaal met die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD) gedeel tydens ’n geleentheid wat gehou is vir vanjaar se dag van herinnering.

In 2020 het Forman sy oumagrootjie gehelp om haar storie stelselmatig op TikTok te begin deel. Haar video’s is wêreldwyd versprei, en hy en Ebert spog nou met byna twee miljoen volgelinge op dié video-platform.

Ebert het in 2021 ʼn boek, Lily’s Promise: How I Survived Auschwitz and Found the Strength to Live uitgegee.

Ebert is in 1923 in Hongarye gebore. Sy was een van ses kinders.

“Ek het baie lekker kinderdae gehad,” het Ebert aan Mary Kluk, nasionale visiepresident van die SAJBD, vertel in die gesprek oor haar ervarings tydens die Jodeslagting tydens die Tweede Wêreldoorlog.

@lilyebert

Lily’s Promise on sale in the US on 10 May. Pre-order now wherever books are sold! ❤️???? #holocaustsurivor #survivor #strongwoman #booktitkok #memoir #books #authoftiktok #uspublication #auschwitz #greatgrandma #family #love #tiktokqueen #tiktokgrandma #holocaustbook #bookrecs #share #foryou #viral #important #emotional

♬ original sound – Lily Ebert & Dov Forman

Vir die geleentheid was sy geklee in pienk, met ʼn pers hoedjie op haar kop. Om haar nek was ʼn goue engeltjie-halssnoer wat haar ouers jare gelede vir haar gegee het.

Die gruweldade wat tydens daardie jare plaasgevind het, het eers in ʼn later stadium van die Tweede Wêreldoorlog aan Hongarye se spreekwoordelike deur kom klop.

“Toe hulle [die Nazi’s] die land binnegeval het, was die oorlog eintlik al amper verby. Soveel as 99% van die Joodse bevolking in Europa het reeds gesterf. Ons was seker dat ons dit sou oorleef. Dis egter nie wat gebeur het nie.”

Sy vertel hoe haar gesin uit hul huis geboender is en na die ghetto in haar Hongaarse tuisdorp, Bonyhád, gestuur is. Dié skuif het vir meeste Europese Jode tydens die oorlog ʼn treinrit na ʼn konsentrasiekamp gewaarborg.

Ebert vertel dat groot families in eenslaapkamerwonings moes bly.

“Daar het ʼn dag gekom toe hulle vir ons gesê het dat ons ʼn halfuur het om alles op te pak en dat ons weggestuur gaan word om te werk.”

(Foto: Dov Forman/Instagram)

Hoewel die gesin die meeste van hul besittings moes agterlaat, het sy daarop aangedring om die goue halssnoer wat sy steeds daagliks dra, saam te neem.

“Ek was mal daaroor, dit was ʼn geskenk van my ma. Ons het egter geweet dat dit iets is wat weggesteek moes word. My boetie het dit in die hak van my ma se skoene weggesteek. Ek weet tot vandag nie hoekom sy dit gedoen het nie, maar sy wou gehad het dat ons skoene moet ruil.”

Sy wys na haar halssnoer en sê: “Dis hoe hierdie engeltjie Auschwitz oorleef het.”

Hierdie gebeurtenis klink effe onwerklik vir baie, aangesien die Joodse gevangenes tot hul skoene aan die Nazi-offisiere moes oorhandig. Die skoene wat hulle in ruil vir hul eie sou ontvang, het egter min geraak en daar is besluit dat Ebert haar eie skoene kon hou.

“Die dag waarop ons by Auschwitz aangekom het, was ons almal eintlik reeds halfpad dood.”

Sy vertel hoe ʼn man daar vir hulle gestaan en wag het met ʼn stok in sy hand. Hy het met die einste stok swaaibewegings na links en regs gemaak, die bewegings sou op die ou end aandui watter van die gevangenes gaan die aankoms oorleef, en watter direk na die gaskamers toe gestuur sou word.

@lilyebert

Reply to @aimeelilyhoff Not human, just numbers ????????#neverforget #auschwitz #holocaust #learnontiktok #holocaustsurvivor #hell #history #viral #jewish

♬ Schindler’s List – Movie Theme – Michele Garruti

Sy het verder gesê dat hulle nie in daardie stadium geweet het waarheen die mense gegaan het wat aan die regterkant moes gaan staan nie. Haar ma en jongste boetie en sussie was deel van die groep mense wat daarheen gestuur is.

“En dit was die laaste keer wat ek my ma en my sussie gesien het.”

Ebert en twee van haar sussies is na die kamp gestuur.

Sy vertel dat sy krag gevind het in die belofte wat sy aan haar pa gemaak het om na haar sussies om te sien.

“Dankie tog dat God na ons omgesien het en dat ek oorleef het.”

Die tweede belofte was een wat Ebert aan haarself gemaak het. Met trane in haar oë het sy vertel dat sy belowe het om haar storie aan die wêreld te vertel indien sy die gruweltydperk sou oorleef.

Meer as 70 jaar later vertel Ebert steeds haar storie.

“Die belangrikste les wat ek mense wil leer, is om hoop te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ONTPS ·

Dit is hartverskeurend. Ek is dankbaar die tannie en ‘n paar van haar sussies het oorleef. En tog leer ons mense nie lesse nie

Samuel ·

Merkwaardige vrou. Hitler en sy Nazi’s was niks anders as moordenaars nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.