Oorlogswolke pak oor Korea saam

Suid-Korea se president, Park Guen-hye, AFP

Noord-Korea het die staakvuur-ooreenkoms met Suid-Korea en alle nie-aanvalsverdrae met die suide opgeskort, terwyl die Suid-Koreaanse president, Park Guen-hye Noord-Korea gewaarsku het dat haar land kragdadig teen provokasie sal optree.

Noord-Korea het selfs met ‘n kernoorlog teen sy suidelike buurman gedreig.

Amerika het intussen onderneem om sy bondgenote ten volle te ondersteun sou Noord-Korea die daad by die woord voeg. Amerika neem juis nou in Suid-Korea aan gesamentlike militêre oefeninge deel. Japan is om verstaanbare redes uiters gevoelig oor ‘n kernbedreiging in sy omgewing, en sal beslis nie stilsit nie.

Daar is nog nooit formeel vrede tussen Noord- en Suid-Korea gesluit nie nadat Noord-Korea die suide ingeval en met die hulp van verskeie lande, waaronder Suid-Afrika in 1953, tot die huidige grens teruggedryf is.

Hoewel die twee lande formeel in ‘n staat van oorlogvoering verkeer, was daar op beperkte skaal kontak. Noord-Korea het nou ook die sogenaamde “rooi lyn”, die militêre telefoonlyn met die suide, afgesny.

Noord-Korea se vloermoer volg na die Verenigde Nasies se veiligheidsraad eenparig bykomende sanksies teen Noord-Korea goedgekeur het weens dié diktatuur se onlangse ondergrondse kerntoets. Ook China, tradisioneel Noord-Korea se bondgenoot, het ten gunste van die sanksies gestem.

Noord-Korea het voor die Veiligheidsraad byeengekom het, met ‘n “voorkomende kernaanval” op Amerika se “hoofkwartier” gedreig.

Daar vind periodiek skermutselings rondom veral betwiste eilandgebiede tussen die twee lande plaas. Dreigemente van Noord-Korea is algemeen, maar het die afgelope maande skerp in histerie toegeneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.