Twee-en-sestig polisiebeamptes het glo oortydbetaling ontvang vir hul werk tydens die Gupta-troue, het die Saturday Star berig.
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die behoorlike prosedure gevolg in die verband,” het Nathi Mthethwa, minister van polisie, in reaksie op ‘n parlementêre vraag aan die Inkatha Vryheidsparty gesê. Zweli Mnisi, woordvoerder van die minister, het aan die koerant gesê die betaling is gedoen aan beamptes wat aan diens was en nie diegene wat vryskutwerk gedoen het nie.
Die regering het ‘n ondersoek na die huweliksplegtigheid van stapel gestuur nadat dit aan die lig gekom het dat gaste in April in ‘n privaatvliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis geland het. Alhoewel die korrekte toestemming nie verleen is nie, het die ondersoek bevind dat die SAPD “binne sy regte” opgetree het om die saak te hanteer asof dit “polisie-betrokkenheid” benodig. Dié betrokkenheid sluit ‘n polisieteenwoordigheid by die troue in Sun City en die koördinering van die 121-motorkonvooi in.
Die ondersoek het egter bevind dat die beamptes nie waaksaam genoeg was nie, aangesien hulle motors, wat onwettig met blou ligte toegerus is, toegelaat het om ander motoriste van die pad af te druk.
Altesaam 62 polisiebeamptes en 31 polisievoertuie van Gauteng is teen ‘n koste van R47 000 gebruik. Altesaam 194 regeringsbeamptes was betrokke.