‘n 21-jarige man is Sondag in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n man verskeie kere met ‘n skerp voorwerp doodgesteek het.
Kapt. Jackson Manatha, ‘n polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die verdagte het glo die 29-jarige slagoffer tydens ‘n tradisionele seremonie in Mgagasi Village in Butterworth vermoor.
“Polisiebeamptes wat nie aan diens was nie en wat die seremonie bygewoon het, is oor die voorval ingelig. Hulle het die man agterna gesit,” het Manatha gesê.
Die beamptes het die verdagte in ‘n taxi buite Butterworth vasgetrek. Hy wou glo na Johannesburg vlug. Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Butterworth-landdroshof verskyn.