Oos-Kaapse man wat jong meisies teiken, skuldig bevind

Foto ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die Oos-Kaapse hooggeregshof het ʼn 66-jarige man, wie se jongste verkragtingslagoffer 13 jaar oud was, skuldig bevind.

Lukas Rudman (66) het Dinsdag in die hooggeregshof in Makhanda verskyn. Hy is skuldig bevind aan onder meer klagte van mensehandel, seksuele aanranding en ʼn klag wat verband hou met ʼn slagoffer wat hy onder die indruk gebring het dat sy seksueel aangerand sou word.

Volgens Luxolo Tyali, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het Rudman hom toegespits op slagoffers uit ʼn behoeftige agtergrond, tussen die ouderdomme van 13 en 17.

Hy sou die slagoffers lok met beloftes van geld, drank, luukshede en kos om na sy woonstel te kom. Rudman sou soms ook dagga en sigarette aan sy slagoffers gee in ruil vir seksuele gunste.

Gedurende 2021 het Rudman ʼn 13-jarige meisie, wat saam met haar vriende verby sy woonstel gestap het, gelok met die belofte van ʼn R50-betaling.

In sy woonstel het hy vir haar kos en drank gegee en haar betas.

Toe sy beswaar gemaak het, het hy haar geld in die hand gestop en gesê sy moet die huis saam met haar vriende verlaat. Rudman het dieselfde slagoffer later gevra om hom alleen te besoek. Hoewel sy huiwerig was, het sy het dit gedoen en die meisie is R200 betaal vir ʼn seksuele daad.

Tydens twee ander soortgelyke voorvalle het Rudman die meisie R700 betaal en vir haar ʼn selfoon gegee.

In dieselfde jaar het Rudman ook jag gemaak op twee sibbes van onderskeidelik 14 en 17 jaar oud. Die twee slagoffers was by sy woonstel en terwyl die jonger suster kos in die kombuis voorberei het, het Rudman haar gevolg en betas. Toe sy haar teësit, het Rudman die sussies sy huis belet.

Rudman het nog ʼn slagoffer, ook 13 jaar oud, tussen Februarie en Oktober seksueel uitgebuit. Die meisie is deur ʼn familiekennis van “iemand vertel wat haar kêrel sal wees en haar alles kan gee wat haar hart begeer”. Die familiekennis het die meisie oortuig om Rudman se huis te besoek, waar hy aan haar drank gegee en haar seksueel misbruik het.

Die dag ná die voorval het Rudman die meisie R100 betaal. Hy het haar later oortuig om weer intiem te verkeer met die belofte dat hy vir haar ʼn selfoon en ʼn paar sandale sal koop.

Rudman is op 16 Oktober 2021 in hegtenis geneem nadat ʼn lid van die gemeenskap ʼn klag by die polisie ingedien het. Hy het hierna verskeie kere in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Sy borgtog is egter Dinsdag teruggetrek en hy sal nou in aanhouding bly tot hy volgende jaar gevonnis word. Die hof het ook sy aansoek om borgtog hangende sy vonnisuitspraak van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.