Oos-Londense skool diskrimineer glo teen ANC-ondersteuners

ʼn Vrou van Oos-Londen beweer daar is teen haar gediskrimineer by Laerskool Southernwood, omdat sy die ANC ondersteun.

“ʼn Vrou wat daar werk het vir my gesê die rede hoekom my kind nie ʼn skool het nie, is omdat ek vir die ANC gestem het en hulle nie skole bou nie,” het Zusake Javu aan die Dispatch Online gesê.

Javu beweer die opmerkings is verlede week deur ene mev. Devon, die adjunkhoof van die laerskool, gemaak. Dit het glo gebeur toe sy haar kind by die skool wou inskryf. Javu beweer sy wou reeds verlede jaar haar dogter by die skool in graad R inskryf, maar is toe meegedeel dat die skool vol is. Toe sy haar dogter vanjaar vir graad 1 wou inskryf, is sy meegedeel dat haar dogter slegs in graad R opgeneem kan word.

Mike Kockott, die skool se hoof, het die beweringe ontken en gesê dat Javu “dalk verward is, oordryf of heeltemal verkeerd is”.

“Ons het nie enige personeellid by die skool met daardie naam nie. Ons het ook nie ʼn adjunkhoof nie,” het Kockott aan Dispatch Online gesê.

Kockott het gesê 90% van die skool se leerlinge is swart en daar word beslis nie gediskrimineer teen watter politieke party hul ouers ondersteun nie. Hy het wel erken dat die skool vol is en dat verskeie leerlinge nie aanvaar kon word nie.

“ANC-ondersteuners gaan baie ly, omdat die president eerder sy huis in Nkandla wil bou, as skole,” het Javu bygevoeg. Sy sê ook as sy vir die DA gestem het, sou daar genoeg skole gewees het.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.