Oos-Rand-tiener het glo nie bedoel om boelie te vermoor

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Seun van die Oos-Rand in Gauteng wat na bewering ʼn vermeende boelie doodgeskiet het, het glo nie bedoel om hom te vermoor nie, het The Star Woensdag berig.

Volgens die berig het die seun se prokureur, William Karam, Dinsdag in die Palm Ridge-landdroshof gesê die moord was nie met voorbedagte rade gepleeg nie.

Die seun, wat nou 19 is, het Nkuleleko Ndlovu (18) in November 2012 met sy ma se dienspistool in die kop geskiet. Die voorval het by Hoërskool Phineas Xulu in Vosloorus plaasgevind.

Volgens hofdokumente het Ndlovu die verdagte genader met die doel om met hom te baklei. Die seun het Ndlovu geskiet nadat hy hom glo geklap het.

Karam se versoek, dat die verdagte verwys word na ‘n rehabilitasieprogram in plaas van die tronk, is deur die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging verwerp.

“Ons is nie gelukkig dat die aansoek verwerp is nie, en het daarteen geappelleer,” het Karam gesê. “My kliënt was jonk tydens die skietvoorval. Hy is erg geboelie en dit was nie ʼn eenmalige voorval nie. Hy het by die skool gaan kla, maar hulle het niks gedoen nie. Hy het uiteindelik die gereg in eie hande geneem.”

Die seun is tans uit op borgtog van R1 000. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eben ·

Een boelie minder om ander se lewens op te duiwel. Hoop die betrokke seun kry n opgeskorte vonnis.

Helene Heyns ·

Ek stem saam met jou Eben. Hierdie pes moet met wortel en tak uitgeroei word.

Annie ·

Jammer die seun is geboelie, maar as dit nie met voorbedagte rade gepleeg is nie wat het hy dan anders met sy ma se dienspistool by die skool gemaak. Dit in opsig self is alreeds ‘n oortreding van die wet beide deur die seun en die ma.

Mias Olivier ·

Ek het nie tyd vir boelies nie. Hulle boelie hul pad oop deur die lewe, en as hulle nie in die bek geruk word en groot word nie, boelie hulle mense ook in hule volwasse lewe. Hulle kies ‘n slagoffer, net soos ‘n reeks moordenaar of verkragter ‘n slagoffer sal kies, en dan maak hul daardie persoon se lewe hel. Niemand wat nog nooit geboelie is sal weet wat so ‘n slagoffer deurgaan nie. As jy gaan kla of hulp soek is jy ‘n slapgat en ‘n sissie. Staan jy jou man, en iets gebeur soos in die geval is in die artikel, dan bly jy steeds die slagoffer. Sommige boelies het ‘n slegte geen in hul DNA, en sommiges gaan net deur ‘n fase. My seun is van kleins af geleer dat as ek hom vang iemand boelie gaan hy nie veel gene oor hê as ek met hom klaar is nie, en as hy geboelie word en hy vertel my nie, gaan die hel ook los wees. Jammer iemand het gesterf, en dis jammer iemand moet die skuld daarvoor dra. Jy wat anderpad kyk en nie reageer as ‘n kind jou vertel hy of sy word geboelie nie, mag die Here jou vergewe, want jy weet nie wat jy doen nie.

Leeutjie ·

In elke boelie se lewe is daar ‘n boelie wat hom geboelie het. Hetsy sy pa of ma, ouer broer of familielede. Ek voel jammer ook vir die kind wat gesterf het want dit was weereens ‘n gebroke mens. Ek wonder net of dit nie kon verhoed word as almal (onderwysers inkluis) geweet het die kind is ‘n boelie en hom gestuur het vir hulp en bystand om nie ander te boelie nie. Nou het hy met sy lewe daarvan afgekom! Die jongman wat hom geskiet het hou ook letsels oor waarvan die werklikheid hom eers later in sy lewe sal tref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.