Openbare beskermer gaan Zumaville ondersoek

Die openbare beskermer, Thuli Madonsela. Foto: GCIS

Die openbare beskermer (OB) het aan AfriForum bevestig dat president Jacob Zuma se beweerde magsmisbruik met betrekking tot die Umlalazi Smart Growth Centre (beter bekend as Zumaville), ondersoek sal word. Hierdie ondersoek, wat volg op ʼn klag wat deur AfriForum ingedien is, sal waarskynlik met die ondersoek na Zuma se Nkandla-woning gepaardgaan.

Hierdie luukse “dorp”, wat sowat drie kilometer van die president se huis gebou sal word, word deur die regering voorgehou as ʼn inisiatief om landelike veiligheid aan te spreek. Na verwagting sal die projek meer as R2-miljard kos, waarvan belastingbetalers die helfte sal moet opdok. Hierdie projek word in samewerking met die landelike ontwikkelingsorganisasie, Masibambisane, uitgevoer. Zuma is die voorsitter van Masibambisane.

“Dit is duidelik dat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid groot voordeel uit hierdie projek sal trek,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. Die OB is gevra om ondersoek in te stel aangesien die omstandighede op ʼn misbruik van mag deur die president neerkom.

“Die president sit op drie stoele. Hy is die hoof van die uitvoerende gesag in die regering, voorsitter van die regering se vennoot, Masibambisani, in hierdie saak en as burger wat persoonlike belange in Nkandla het, is hy ook ʼn begunstigde in hierdie saak. Dit is besonder oneties, om die minste te sê,” het Roets gesê.

Roets het bygevoeg dat dienslewering, misdaadvoorkoming en onderwys regoor die land in ‘n krisis verkeer en dat hierdie projek by enige redelike Suid-Afrikaner die indruk kan skep dat  president Zuma besig is om sy eie belange bo dié van sy land te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.