Openbare Beskermer ontvang meer Nkandla-inligting

Nkandla

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het glo meer inligting ontvang vir haar ondersoek na die opgradering van pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning.

“Sy het Vrydag uitstaande inligting oor die ondersoek ontvang. ʼn Voorlopige verslag sal aan die betrokke partye oorhandig word vir kommentaar sodra alle inligting bestudeer is en die ondersoek afgehandel is,” het Kgalalelo Masibi, woordvoerder van die OB se kantoor, gesê.

Masibi wou nie die bron van die jongste inligting bekend maak nie. “Ons kan nie bekend maak wie die inligting aan ons gegee het nie, aangesien dit die ondersoek sal ondermyn en in gedrang sal bring.”

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het in Januarie vanjaar aangekondig dat die regering R206 miljoen aan sekuriteitsopgradering en konsultante spandeer het vir Zuma se privaathuis in KwaZulu-Natal. Nxesi het verlede maand aan die parlement gesê Siyabonga Cwele, minister van staatsekuriteit, het die verslag as hoogs vertroulik geklassifiseer. Die verslag is deur ʼn presidensiële taakspan opgestel. Dit beteken dat selfs Terence Nombembe, ouditeur-generaal, en Madonsela nie die verslag mag sien nie.

Nxesi se departement het egter vroeër vandeesmaand ʼn verklaring uitgereik wat ontken dat die minister gesê het Cwele het die verslag geklassifiseer en dit benadruk dat “die minister van openbare werke die verslag kragtens die minimum inligtingsekuriteitstandaard (MISS) geklassifiseer het”.

Madonsela het twee weke gelede bevestig dat sy die geklassifiseerde Nkandla-verslag van Nxesi ontvang het.

Masibi het gesê sy weet nie hoe lank die ondersoek kan duur nie. “Ek kan nie ʼn sperdatum hieraan koppel nie. Dit hang af van die Openbare Beskermer. Die voorlopige verslag is nog nie eers afgehandel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.