Openbare beskermer oorweeg ondersoek teen polisieminister

Nathi Mthethwa

Die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, het Maandag in ʼn skrywe aan AfriForum bevestig dat sy ʼn ondersoek oor magsmisbruik en politieke afpersing teen die minister van polisie, Nathi Mthethwa, oorweeg. Die skrywe spruit uit ʼn klag wat AfriForum in Januarie teen Mthethwa ingedien het oor sy hantering van dié organisasie se protesoptog teen plaasmoorde, wat op 1 Desember 2012 plaasgevind het.

Die minister het die genoemde optog tot ʼn onwettige optog verklaar, ten spyte van die feit dat aan alle statutêre vereistes voldoen is. Die organisasie het die Noord-Gautengse hooggeregshof op ʼn dringende basis genader en ʼn verklarende bevel ontvang dat die optog mag voortgaan. “Die minister het hom egter nie aan die hofbevel gesteur nie en voortgegaan om dit as ʼn onwettige optog te hanteer,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. “Geen polisie is na die Pretoriase middestad ontbied om na die veiligheid van die betogers om te sien nie en die polisiebeamptes wat wel op die toneel was, was toevallig in die area en het geen kennis van die optog gedra nie.”

Die minister se verteenwoordigers het verskeie pogings aangewend om te verhoed dat hierdie optog plaasvind. By een geleentheid het ʼn verteenwoordiger, wat geweier het om sy posbeskrywing of kontakbesonderhede te verstrek, Roets ingeroep vir ʼn vergadering en gesê dat AfriForum nie moet verwag om ʼn afspraak met die nasionale polisiekommissaris oor plaasmoorde te kry as dié organisasie nie afstand doen van sy planne om teen plaasmoorde te protesteer nie. “Die minister se woordvoerder, Zweli Mnisi, het in verskeie telefoniese gesprekke ook geen geheim daarvan gemaak dat ons nie moet verwag om ʼn afspraak met die minister te kry solank ons van voorneme is om met openbare protesoptrede aandag op die probleem te vestig nie. Dit is ʼn geval van blatante politieke afpersing deur amptenare wat hul politieke ideologie ten koste van die publiek dien,” het Roets gesê.

“Die datum is gekies omdat die Potgieter-gesin op 1 Desember 2010 op hul plaas naby Lindley vermoor is. Verskeie slagoffers van plaasmoorde, asook families van vermoorde boere het aan die optog deelgeneem. Die minister het nie ʼn goeie indruk by die slagoffers geskep nie,” het Roets gesê. AfriForum het sy dank uitgespreek teenoor diegene wat die optog bygewoon het en hulle gerusgestel dat die minister se hantering daarvan as ʼn onwettige optog nie beteken dat dit onwettig was nie, aangesien die hof vooraf beslis het dat dit mag voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.