Die verkeersdepartement in die Wes-Kaap het Operasie Moegheid van stapel gestuur in ʼn poging om noodlottige ongelukke op die paaie te verminder, het EWN berig.
Bykans 800 langafstand-taxi’s op pad na die Oos-Kaap is sedert Donderdag afgetrek en 54 bestuurders was verhoed om verder te bestuur aangesien hulle tekens van tamheid getoon het. Bestuurders se motorsleutels word weggevat en eers teruggegee wanneer hulle vir ʼn paar uur gerus het. Kenny Africa van die verkeersdepartement het gesê dat die owerhede die bestuurders tussen twee en vier uur laat rus. “Ons is van voornemens om met hierdie veldtog voort te gaan en taxibestuurders uurliks te laat stop om seker te maak die bestuurders is reg om te bestuur – veral tussen Beaufort-Wes, Laingsburg en Aberdeen.
Ten minste 15 mense het die afgelope 24 uur regoor die land gesterf weens motorongelukke.