Opgeskorte vonnis vir rekenmeester met lang vingers

‘n Rekenmeester van die Wes-Kaap het Maandag ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar ontvang nadat hy duisende rande van die Joodse Gemeenskapsentrum (JCC) gesteel het.

Ashley Fataar (47) van Wynberg in Kaapstad het R144 000 oor ‘n tydperk van drie jaar gesteel. Aanklaer Denver Combrink het aan die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof gesê drie verskillende organisasies is in die saak betrokke, naamlik ‘n liefdadigheidsorganisasie, United Jewish Campaign (UJC), die JCC, en die Bnoth Zion Association (BZA). Klik hier om meer te lees.

Die BZA het die UJC se maandelikse huur, wat aan die JCC betaalbaar was, geborg. Dit was Fataar se plig om die geld in die JCC se bankrekening in te betaal. Fataar het egter die huurgeld in sy eie bankrekening deponeer.

Combrink en Haley Lawrence, prokureur vir Fataar, het ingestem dat ‘n opgeskorte vonnis die belange van geregtigheid en die gemeenskap dien.

Landdros Sabrina Sonnenberg sê die hof moes daarop fokus om Fataar te ontmoedig om die misdryf te herhaal. “Jy [Fataar] was nie ‘n tiener wat gedink het dat hy kanse kon vat en daarmee wegkom nie. Jy is ‘n volwassene, en moet besef dat misdaad gevolge dra.” ‘n Verswarende faktor was dat hy van ‘n nie-regeringsorganisasie gesteel het wat ten doel het om vir die mees weerlose in Kaapstad se Joodse gemeenskappe te sorg. “Jy het gedink jy kon daarmee wegkom, en dat die ouditeure dit nooit sou optel nie.” Sonnenberg sê Fataar se kinders het eerlikheid en integriteit van hom verwag en dat hy, ondanks sy genoegsame salaris as rekenmeester, gesteel het. “Die feit dat dit jou eerste oortreding is, is die enigste ding wat jou uit die tronk hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.