Opleiding moet nie ‘n skuldvonnis wees nie – Ramphele

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, is Vrydag in Kaapstad deur studente toegejuig toe sy haar toewyding aan die party bevestig het.

“Ons het leiers nodig wat ʼn voorbeeld kan stel. Ons is deurmekaar, wat het verlede week gebeur?” wou een van die studente by die Universiteit van die Wes-Kaap by haar weet. Sy het verduidelik dat die mislukte samesmelting met die Demokratiese Alliansie deur logistiek beïnvloed is. “Niemand kan elke hoek van Suid-Afrika in so kort tydjie bereik nie,” het sy gesê. “Maar as ons ʼn verkiesingspakt aangaan, dan kan ons die straffeloosheid van die ANC uitdaag.”

Sy het geskerts toe sy na haar “mislukte huwelik” met die DA verwys het. “Hoeveel huwelike het al in die land verbrokkel? Hoeveel verlowingspartytjies was al onsuksesvol? So lank as wat ons die ANC toelaat om die rassekaart te speel, só lank sal ons in slawerny bly,” het sy gesê.

Sowat 300 studente in groen T-hemde van Agang het hande geklap en haar toegejuig.

Die DA het verlede week aangekondig dat Ramphele ingestem het om hul presidensiële kandidaat te wees, en dat daar gesprekke is om die twee partye te laat saamsmelt. Die DA het egter Sondag gesê Ramphele het afgewyk van die ooreenkoms.

Sy het aan die studente gesê sy is al 45 jaar lank ʼn voorbeeldige leier. “Soos wat [voormalige president Nelson] Mandela gesê het: mens maak foute, jy val, dan stof jy jouself af en jy staan op,” het Ramphele verduidelik.

Ramphele sê sy vergader steeds met verskeie politieke partye as deel van haar stigtingsbelofte om moontlike vennootskappe te vestig. Sy het aan studente gesê sy sal seker maak dat elke gewillige persoon universiteitsopleiding kry indien die party as die regerende party ingestem word. “Elke persoon sal ten volle betaalde universiteitsopleiding ontvang.” Gegradueerdes kan dan deur belasting of staatsdiens weer die geld terugploeg in die onderwysstelsel.

Sy sê opleiding moet nie ʼn “skuldvonnis” wees in ʼn land wat soveel geld aan hierdie portefeulje spandeer nie. “In watter trotse demokrasie het mens universiteite wat hul deure moet sluit omdat studente nie registrasiefooie kan bekostig nie?”

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie moes verlede week klasse opskort nadat studente oor ʼn tekort aan finansiering betoog het. Klasse het Woensdag by TUT hervat. -SAPA

Lees ook:
Eksklusiewe onderhoud met dr. Mamphela Ramphele: “Samewerking, nie samesmelting”
Ramphele en Zille verduidelik wat gebeur het
“Ramphele kan nie vertrou word nie” – DA
DA gaan Ramphele ‘n ultimatum gee
Ramphele en Agang vergader in JHB
Ramphele is nog nie ‘n DA-lid nie
Ramphele gaan DA se presidensiële kandidaat wees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.