Opposisiepartye vorm koalisie

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

JONGSTE: IVP nié deel van nuwe koalisie

Vyf opposisiepartye het Dinsdag aangekondig hulle het ʼn koalisie gevorm vir die algemene verkiesing in 2014.

Die nuwe Kollektief vir Demokrasie (CD) bestaan uit die Vryheidsfront Plus (VF Plus), die African Christian Democratic Party (ACDP), Congress of the People (Cope), die Inkatha Vryheidsparty (IVP)  en die United Christian Democratic Party (UCDP).

“Die politieke dinamika het nou verander, aangesien die diversiteit van Suid-Afrika effektief in ons CD verteenwoordig word,” het Mosiuoa Lekota, voorsitter van die CD en leier van Cope, gesê. “Ons het nou die geleentheid om vir kiesers die hoop van werklike politieke verandering te bring, in plaas daarvan om op te gee met alternatiewe omdat die regerende party sy weg sinies tot in alle sektore van ons samelewing gemanipuleer het, en sy mag en korrupsie verstewig het.”

Die partye sê hulle wil demokrasie bevorder en aan die algemene verkiesing deelneem om voldoende verteenwoordiging te kry om ʼn nuwe regering te vorm.

Lekota sê onderhandelings vir die CD duur al ʼn paar jaar lank om gemeenskaplike grond te vind.

Die ooreenkoms fokus op die “gemeenskaplike gebiede van prioriteit” wat uit 20 punte bestaan waaroor daar onderhandel is. Dié ooreenkoms is Dinsdag formeel tydens ʼn ondertekeningsplegtigheid aanvaar. Die gemeenskaplike gebiede sluit die prioritisering van onderwys en opleiding in, om die Wet op die Beskerming van Staatsinligting na die konstitusionele hof te verwys, die streng skeiding tussen party en staat te verseker, en die hersiening van ʼn “geswolle” regering om doeltreffendheid en bekostigbaarheid te verseker.

“Die Kollektief vir Demokrasie sal binnekort sy span van moontlike verteenwoordigers bekend maak wat uit die beste mense binne die partye sal kom, terwyl ons fokus op korrupsievrye, bekwame en betroubare kandidate,” het die CD gesê.

Ceryllyn Dudley, ACDP-LP, het gesê haar party verwelkom die CD. “Die CD is ʼn toonbeeld van die ACDP se toewyding om ʼn gedeelde toekoms van alle Suid-Afrikaners te verwesenlik om ʼn vreedsame en voorspoedige Suid-Afrika te verseker vir almal wat hier woon,” Dudley gesê.

“Koalisies is ʼn belangrike deel van ons verkiesingstelsel en maak dit moontlik vir kiesers om vir die party, wat die naaste aan hul waardes is, te stem, maar nog steeds teen die ANC te stem,” het Pieter Mulder, leier van die VF Plus, gesê. “Ons wonderlike land waarin ons bly is divers, en ons toekoms moet dit weerspieël.”

“Ander opposisiepartye is welkom om by die koalisie aan te sluit, met die voorwaarde dat hulle hulself aan die ooreengekome beginsels kan verbind,” het die CD gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Danie ·

Enige koalisie om groter opposisie samewerking te kry om die ANC teen te staan is goed.Dit is goed die VF+ het besluit om deel van n koalisie te word.Maar ek het nou een vraag,gaan die VF+ ondersteuners voortaan die DA nog steeds ANC lite noem?Aangesien hulle nou in koalisie is met COPE wat hulle ook ANC lite noem.Na my mening gaan hierdie koalisie nie baie goed vaar nie,almal weet hoe verdeeld COPE was en die IVP is al so gestagneer,hulle is besig om weg te kwyn.Die VF+ gaan goed onder 1% van die uitgebragte stemme inkom.Hoekom is n koalisie van klein en kwynende partye nodig?Ek stem eerder DA ,wat n groeiende,dinamiese,goed georganiseerde party is met vaste beginsels en waardes.Dit is nie nodig vir n klomp klein partye nie,ons het een groot,beginselvaste party nodig waar almal wat dieselde waardes deel welkom is.En daardie party is die DA.

Rudi ·

Ag nee, jy yl, die DA is nes die ANC. Pro aborsie, pro pornografie, pro BEE, ensovoorts ensovoorts. As jy DA wil stem, just cut out the middleman en stem sommer ANC. Same diffs.

Christo ·

Die DA is ‘n beginselose pro aborsie, anti-Christen en anti-Afrikaner party. Enige ware Christen kan nie vir die DA stem nie. Ek wens mense se oe wil begin oopgaan oor hierdie vrymesselaar party;die DA leier in die Nasionale Raad van Provinsies is immers ‘n 33graadse vrymesselaar. Dis net so goed jy gaan stem vir Satan self.

amelia ·

Nee wat die DA is net soos die ANC Mense se oe moet begin oopgaan voor dit te laat is

Elize Mans ·

Danie,ek stem nie saam met jou nie.Wat het die DA al vir ons gedoen.Weet jy,laas het ek ook vir die DA gestem,maar het die DA al vir ons iets gedoen.

Hulle vry net na swart steun.Die VF +, het ongelooflik baie vir die Transnet Pensioenarisse gedoen,hulle is nou besig met hofsake.
Omdat hulle n koalisie vorm,het hulle dit laas ook gedoen, met die vorige stemming.So ek sien nie hoekom die DA voor getrek moet word nie.

Frik Lotz ·

Die koalisie is goed vir die politiek in Suid Afrika. Mense stem nog steeds vir die party van hul keuse,maar weet dat die partye in die koalisie gaan saamwerk teen die ANC. Die DA is op die afdraende pad en kan en het ook nog nooit iets vir die Afrikaner beteken nie. Die VF Plus is die vaandeldraer van minderheidsregte en selfbeskikking en het nog altyd opgestaan vir die Afrikaner se regte. Die DA sal n ANC-lite bly.

Danie ·

Frik en Elise,ek moet verskil.Ten eerste Frik,jy het altyd dieselfde deuntjie oor die VF+,minderheidsregte en selfbeskikking.Watter selfbeskikking?Hoe gaan die VF+ selfbeskikking kry,watter konkrete voorstelle is daar op die tafel?Ek het ongelukkig nuus vir jou.Apartheid is nou al langer as 20 jaar iets van die verlede,dit gaan nooit weer terugkom nie.As jy so graag selfbeskikking wil he,kan jy mos op Orania gaan bly,of bly jy reeds daar.?As die VF+ gaan aanhou hamer op selfbeskikking gaan die ander partye ook wegstaan van julle,dan is julle weer heeltemal op jul eie.Dan die kwessie oor minderheidsregte.Julle gaan in koalisie met COPE,ACDPen ucdp,en al hierdie partye het onlangs vir die rasse kwota wet gestem.So geen rede meer om die DA n ANC lite te noem nie.Die DA probeer sy bes om minderhede te beskerm,en is self saamgestel uit minderhede,maar besef dat hy n party vir alle Suid Afrikaners moet wees,anders sal die ANC nooit verslaan kan word nie.Die DA het soos julle weet sy posisie oor die rasse kwota wet verander,en in die Nasionale Raad van Provinsies daarteen gestem.Nie die partye waarmee julle in koalisie gaan nie,hulle ondersteun dit nog steeds.
Elise,die DA werk elke dag hard vir die mense wat vir hom gestem het.Watter ander party stry so hard teen korrupsie en is so uitgesproke daaroor as die DA?Dit is bv Lindiwe Mazibuko wat die Openbare Beskermer genader het oor Nkandla.
Enigiemand wat beweer die DA is op die afdraande pad kan maar kyk hoe goed die DA gaan doen in volgende jaar se verkiesing.Hoe sterker die DA word ,hoe beter kan hy die ANC teenstaan.Ek vertrou die DA se leier,Helen Zille,dat sy presies gaan doen wat sy se sy gaan doen.Sy sal nie die DA los voor daar nie net so n sterk en beginselvaste leier is soos sy om oor te vat nie.Daar is geen manier hoe die VF+ meer as 1% van die stemme gaan trek nie,praat van op die afdraande pad.
Nog n kommentaar oor minderhedsregte,as die VF+ so sterk voel oor minderheidsregte,hoekom soek hulle dan nie steun by die bruin mense en Indiers nie,hulle is ook mos minderhede.Nee wat,wees eerlik.Die VF+ is n party eksklusief vir wit Afrikaners.Dit is ook hoekom julle nie meer as 1% van die stemme gaan trek nie,want Afrikaners is seker maar 5% van die bevolking.
Ek sal n repliek daarop waardeer.

Babs ·

DA sal nie weer my stem kry. In die Kaap is hulle net betrokke as dit kom by inwoners van Khayelitsha. Alles word vir hulle gedoen en dan stem hulle in elk geval nog vir die ANC. Ek glo Mnr Mulder gaan die stemme kry van die Transnet Pensioenarisse.

Danie ·

Hier is ongelukkig baie mense op hierdie webwerf wat lei aan ontvlugting sindroom,soos Babs wat wil he daar moenie n Khayelitsha in die Wes Kaap wees nie,Wel Babs,ongelukkig is daar n Khayelitsha in die Wes Kaap,daar is ook n Nyanga,Gugulethu ens,ens.Die DA het die Wes Kaap ten spyte daarvan gewen,en gaan dit weer doen.Met of sonder jou hulp.

Nico ·

Die meerderheid mense verstaan nog nie die proporsionele kiesstelsel soos ons hom in die nuwe SA het nie. Een groot opposisie party is nie nodig nie. In die parlement kan al die opposisie partye wel saamstaan teen die regering en hoef hulle nie saam te smelt nie. (Gaan kyk na Europa.) Dis hoekom ek vir die Vryheidsfront stem. Ek stem meer saam met hulle beginsels as die DA en dit is nie asof die DA ‘n kans het om die verkiesing te wen nie. Maar juis daarom kan ek nie die doel van hierdie koalisie verstaan nie. Dit gaan die VF niks in die sak bring nie. Voor die verkiesing staan elke party vir sy eie beginsels. (Ek stem met min van die ACDP of Cope saam.) Na die verkiesing kan die partye saam werk in die parlement waar daar gemeenskaplike belange is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.