Opposisiepartye vra ondersoek na Zuma se BBP-beskermingseenheid

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die DA en die Vryheidsfront Plus sal die openbare beskermer, Thuli Madonsela, vra om ondersoek in te stel na lyfwagte in president Jacob Zuma se BBP-beskermingseenheid wat “onreëlmatig” tot toprange in die polisiediens bevorder is.

Die DA en Vryheidsfront Plus sê dit kom na ʼn berig in die City Press die naweek oor twee lede wat tot ses range gespring het, van sersant tot kolonel. Twee lede het met drie range gespring, van kaptein tot kolonel, terwyl nog twee lede met vyf range gespring het, van adjudant-offisier tot kolonel. Die vakatures is glo nie binne die eenheid geadverteer nie en geen onderhoude is gevoer nie. Die DA se woordvoerder oor polisie, Dianne Kohler-Barnard, sê sy sal Madonsela vra om ʼn ondersoek wat die DA reeds verlede jaar aangevra het na onreëlmatige bevorderings binne die SAPD, uit te brei om die bevorderings van die BBP-beskermingseenheid in te sluit. Kohler-Barnard sê daar blyk ʼn afwyking te wees van die polisie se riglyne wat die nasionale kommissaris toelaat om beleidsriglyne slegs in spesiale omstandighede oor te skryf. “Die SAPD se riglyne maak dit duidelik dat vlakke en range nie gespring kan word nie en dat personeel moet aansoek doen en met hulle eweknieë moet kompeteer vir geadverteerde poste, “het sy gesê.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.