Oprah se skool: eerste matrieks slaag almal

Die eerste groep matrieks by Oprah Winfrey se skool vir Suid-Afrikaanse meisies is nou gereed vir tersiêre onderrig nadat hulle almal hul matriekeksamen geslaag het, het die Raad van Direkteurs Donderdag gesê.

Die 72 meisies het altesaam onderskeidings in 188 vakke behaal, het David Wylde aan AFP gesê. “Dit is ʼn bewys dat, indien meisies uit ʼn benadeelde agtergrond geneem word en ʼn behoorlike en uitgebreide opvoeding aangebied word, hulle uitermatig goed sal presteer,” het hy gesê. Die multi-miljoenrandse skool aan die suide van Johannesburg in Henley-on-Klip wat deur Winfrey gefinansier word, het in 2007 sy deure oopgemaak tydens ʼn geleentheid wat Nelson Mandela ook bygewoon het. Die oorspronklike groep meisies was tussen die ouderdomme 11 en 13 en hulle is gekeur uit ʼn groep van 3 500 aansoeke. Winfrey het self die finale 152 meisies gekeur gebaseer op hul akademiese en leierskapkwaliteite tesame met hul benadeelde huislike omstandighede. ʼn Paar maande later het die skool gebuk gegaan onder beskuldigings van aanranding toe ʼn koshuismoeder aangekla is dat sy ses meisies en ʼn kollega onsedelik aangerand het. Sy is verlede jaar onskuldig bevind. Die groep matrikulante beplan om hierdie jaar in ʼn verskeidenheid van rigtings te studeer: sommige wil graag dokters of prokureurs word, en ander wil in die kunste en ingenieurswese studeer. Verskeie leerders het reeds volle beurse ontvang, en ander wag nog om te hoor of hul beursaansoeke goedgekeur is. Twee leerders gaan by Amerikaanse universiteite studeer, agt gaan na tersiêre inrigtings in ander lande en 62 het reeds toelating by universiteite in Suid-Afrika ontvang.

Net minder as 500 000 voltydse leerders het die nasionale matriekeksamen in November 2011 afgelê en volgens uitslae wat Woensdag bekend gemaak is, het 70.2% die eksamen geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.