OR Tambo: Verskeie vlugte weens ongeluk vertraag

Foto: @ricic, Twitter

Nooddienspersoneel verwyder steeds puin van een van die aanloopbane by OR Tambo Internasionale Lughawe nadat ʼn vliegtuig se een wiel Dinsdagoggend ontplof het voordat hy kon opstyg.

Een van die wiele van die Global Aviation-vliegtuig het ontplof en ʼn brand veroorsaak, berig EWN. Die 127 persone aan boord (120 passasiers en sewe bemanningslede) het almal veilig van die vliegtuig afgeklim en geen beserings is aangemeld nie. Die vliegtuig was oppad na Malawi.

Verskeie internasionale vlugte is steeds vertraag.

Unathi Batyashe-Fillis, woordvoerder van die lughawensmaatskappy Acsa, het gesê hulle sal eers kan bepaal of die aanloopbaan beskadig is sodra die vliegtuig verwyder is. “Hulle is besig om die puin skoon te maak. Sodra dit afgehandel is, sal die aanloopbaan weer veilig verklaar word,” het sy gesê.

Batyashe-Fillis sê die lugredery bied alternatiewe vlugte vir passasiers na Lilongwe, Malawi.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar Acsa het bevestig hulle ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.