Oranjerivier se naam verander dalk ook

Die Orjanjerivier. Foto: Suid-Afrikaanse Toerisme

AfriForum het beswaar by die Oos-Kaapse Provinsiale Geografiese Namekomitee (OKPGNK) aangeteken oor die voorgestelde naamsverandering van die Oranjerivier in die Maletswai-munisipaliteit. Volgens ʼn advertensie in die Aliwal Weekblad word versoek dat die rivier se naam na IGqili of Senqu verander word, omdat “die denkbeeld bestaan dat die huidige naam ʼn sterk verbintenis met die geskiedenis van koloniale onderdrukking het en dus geen plek in die huidige demokratiese bestel het nie”.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die poging tot naamsverandering nie net ʼn daad van disrespek teenoor die verlede en lede van die gemeenskap nie, maar ook ʼn tegniese fout.

“Die doel van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (SAGNR) en die raad se provinsiale komitees is om geografiese name te standaardiseer en te verseker dat geografiese bakens slegs een naam het om verwarring te voorkom. Die naam van ʼn rivier wat deur of langs verskeie munisipale en provinsiale gebiede vloei, kan dus nie ʼn ander naam in ʼn bepaalde area kry nie. Die komitee mag ook nie voorstelle indien vir die naamsveranderings van enige bakens wat buite die provinsiale grense val nie, en oorskry dus hulle magte met die voorstel,” het Bailey gesê.

Benewens die tegniese punte, meen AfriForum volgens Bailey dat die naam Oranjerivier, wat reeds langer as twee eeue onder alle lede van die gemeenskap in gebruik is, op geen wyse verkleinerend of diskriminerend is nie. Die beswaar dat dit “geen plek in die huidige demokratiese bestel” behoort te hê nie, is uiters aanvegbaar en skep ʼn indruk van onverdraagsaamheid jeens die kulturele erfenis van ʼn spesifieke deel van die gemeenskap. Dit dra hoegenaamd nie by tot die vestiging van ʼn kultuur van wedersydse erkenning of respek nie.

“ʼn Land se geografiese name moet die volle spektrum van die verlede weerspieël en ʼn liggaam soos die SAGNR het die plig om toe te sien dat dit nie verskraal word as gevolg van persepsies nie,” het Bailey bygevoeg.

Die publiek het tot 14 Junie 2013 tyd om by die OKPGNK op die voorstelle kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Helizna Kilian ·

Kan ‘n mens kontak inligting vir die OKPGNK kry, asb?

Pieter Oosthuizen ·

Dit is eintlik, behalwe dat dit belaglik, onrealisties, vyhandig en verwaand is, hartverskeurend. As dit so eenvoudig is om die sin “die denkbeeld bestaan dat die huidige naam ʼn sterk verbintenis met die geskiedenis van koloniale onderdrukking het en dus geen plek in die huidige demokratiese bestel het nie” aan te voer om so versoek te regverdig is daar werklik geen plek vir enige Afrikanerverbintenisse tot die land nie.

Die fondasies en bakstene en sement en metaal en bloed en trane wat saam met die verbintenisse in die sand van Suid-Afrika begrawe lê kan egter, heel gerieflik, nooit immigreer saam met die mense wat dit geplant het nie.

Hoe lank sal net sommiges van ons weier om so beledig te word? Dankie AfriForum, dankie dat julle oor-en-oor vir Afrikaners herinner dat ons mag en MOET trots bly op ons herkoms.

Terloops, Majuba se naam is nog altyd Amajuba….

Melissa ·

Ek sal hulle ook graag wil kontak! Kan julle kontak inligting verskaf asb?

Paul ·

Die rivier staan tog reeds as Senqu bekend in Lesotho, en ook as die Gariep of Xhariep.
Dis heeltemal normaal in talle lande dat riviere en plekke verskillende name in verskillende tale het. Dis die oplossing vir Suid-Afrika. As iemand die rivier Senqu wil noem in Sotho, is dit reg, en as iemand dit die Oranje wil noem in Afrikaans, is dit ook reg.

Vat ‘n plek soos Ierland, daar is al die plekke en berge en riviere en alles twee name, een in Engels en een in Iers. Dikwels verskil dit baie – die naam van Dublin (wat van die destydse Ierse naam wat “donker poel” beteken, afgelei is) se moderne Ierse naam is byvoorbeeld Baile Átha Cliath, wat “dorp van die versperde fort” beteken. Beide name word gebruik.

Pieter Oosthuizen ·

Paul, dit is so, mens kan nie met jou redenasie stry nie. Dit sou ook moontlik ‘n “regverdige” oplossing gewees het vir die straatnaamveranderings in Pretoria, maar dit is nie die wyse waarop veranderings in S.A. plaasvind nie. “Die doel van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (SAGNR) en die raad se provinsiale komitees is om geografiese name te STANDAARDISEER en te verseker dat geografiese bakens slegs een naam het om verwarring te voorkom…”

Polokwane is nie meer Pietersburg nie, Tlokwe nie meer Potch nie, Bela Bela nie meer Warmbad nie. Vir my en jou dalk ja, maar daar is generasies wat na ons kom en kinders wat moet weet van waar hul wortels spruit.

Lesotho is nie S.A. nie. As jy dit kan regkry om die regerings te oorreed dat jou siening op so wyse uitgevoer moet word haal ek voorwaar my hoed af.

Paul ·

Jy is korrek, Pieter, dis die hele werkswyse van die Nameraad, wat nie ruimte laat vir meer as een amptelike naam nie, waar die eintlike probleem lê.

william ·

Ag verander maar net die kleur na swart .Dan sal die ANC en al hulle makkers tevrede wees.So ver ek kan onthou is die naam afgelei van die kleur van die water en hulle moet dit dan ook maar verander.

Paul ·

Heel gepas, William, is die naam eintlik aan die Nederlandse vorstehuis, die Huis van Oranje, ontleen. In die tyd wat die naam gegee het, was Willem die Vyfde aan bewind. Die naam het niks met die kleur van die water te doen nie.

Gawie Botha ·

Nou dan gaan die die benaming “witmens” seer sekerlik ook verander word!,,,of “witmens” gaan gerepatrieer of uitgemoor word!!!!

Ina Smal ·

En so word die land se geld gemors, maar in skole waar kinders tans veronderstel is om eksamen te skryf, moes die eksamens gestop word want die departement het nie geld voorsien dat die skole kan papier aankoop vir die fotostate van vraestelle nie. Dis jammer dat ons regering al hoe meer vashaak by naamsveranderinge en geld spandeer onnodig, terwyl ons land se kinders sonder handboeke ens moet voortsukkel in skole. Munisipaliteite sonder koeverte………. dus kan die dorp nie hul rekeninge kry nie, jy moet maar gaan uitvind hoeveel moet betaal word, en as jy dit nie don nie, sny hulle net doodeenvoudig die krag af. Maar nou moet name verander………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.