Organisasies bespreek groenskrif vir grondhervorming

Verskeie burgerlike organisasies gaan op Donderdag ʼn konferensie naby Pretoria bywoon oor die impak van grondhervorming in Suid-Afrika. Foto: AfriForum

Verskeie burgerlike organisasies gaan op Donderdag ʼn konferensie oor die impak van grondhervorming in Suid-Afrika hou. Die konferensie gaan handel oor die nasionale demokratiese revolusie, grondbesit en die groenskrif vir grondhervorming en hoe dit gemeenskappe sal raak.

Sprekers soos Dr Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge, Dave Steward van die FW de Klerk-stigting en Bennie van Zyl van TLU SA sal tydens die konferensie, wat by Stone Cradle naby die Rietvleidam net buite Pretoria aangebied word, die gehoor oor die impak van die groenskrif toespreek.

Die groenskrif is in 2011 deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming uitgereik. Dit hou verreikende gevolge vir kommersiële landbou in Suid-Afrika, asook eiendomsbesit en beleggings in. Organisasies het aan die einde van verlede jaar byeengekom om ʼn gesamentlike strategie te ontwikkel om die groenskrif te stuit. In die eerste inisiatief is daar ʼn alternatief vir die groenskrif geformuleer. ʼn Bloudruk vir ʼn volhoubare grondbeleid is ook opgestel waarin ʼn alternatiewe beleid verseker dat alle Suid-Afrikaners se regte beskerm word sonder om belangrike ekonomiese beginsels prys te gee.

Die konferensie is die volgende stap in die strategie. Nog sprekers wat die gehoor sal toespreek is Steve Booysen van AfriSake, Pieter Vorster van die Afrikanerbond en Flip Buys van Solidariteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.