Orgidee na Zuma vernoem

Een van die Phalaenopsis-tipe orgidees. Dié een is Phalaenopsis Brother Sara Gold

‘n Orgidee is na president Jacob Zuma vernoem.

Dié eer is deur die Orgidee-vereniging in Rustenburg aan Zuma toegeken. “Soos julle weet was daar baie blomme waar ek grootgeword het,” het Zuma aan verslaggewers in Pretoria gesê. “As ‘n herder het ek rondgeloop en blomme gepluk, alhoewel ek nie hulle name geken het nie. Baie dankie vir dié besondere eer,” het Zuma gesê.

Die orgidee is Phalaenopsis Jacob Zuma gedoop.

Die 15de SA Orgideeraad se nasionale konferensie en -skou sal later dié maand in Rustenburg gehou word.

Tinus Oberholzer, president van die vereniging, het die orgidee Donderdag by die Uniegebou in Pretoria aan Zuma oorhandig. “Daar is baie min mense in Suid-Afrika wat kan spog dat ‘n orgidee na hulle vernoem is,” het hy gesê.

‘n Orgidee is ook vernoem na voormalige president Nelson Mandela, maar dit het in Singapoer plaasgevind

Zuma kon tussen vier verskillende kleure van die Phalaenopsis-tipe orgidee kies. “Hy het die een met die heldergeel-kleur gekies. Die kleur mag verander na gelang van die ligintensiteit in die gebou,” het Oberholzer bygevoeg.

Zuma het glo dié spesifieke kleur gekies omdat dit hom aan die skoenlappers tydens sy kinderjare herinner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.