Orkaan Sandy tref Amerika

14de straat in New York, Maandagaand Foto: John Minchillo, AP

Bome en kragdrade is omgewaai toe Orkaan Sandy Amerika Maandagaand getref het.

Ten minste 12 mense is Maandag in Amerika en Kanada weens die storm oorlede. Plaaslike beamptes in New York, New Jersey, Pennsylvania, West Virginia, en North Carolina het 11 sterftes aangemeld en die polisie in Toronto het gesê ‘n vrou is dood toe ‘n inligtingsbord in haar vasgewaai het. Die windsterkte in Toronto was in daardie stadium sowat 65 km/h.

Maroela Media het vroeër berig 67 mense het reeds in die Karibbiese Eilande weens die storm gesterf.

Die dodetal staan dus minstens op 79.

“Teen 23:00 (New York plaaslike tyd) was sowat 1 600 000 mense sonder elektrisiteit gelaat,” het Andrew Cuomo, goewerneur van New York berig.

‘n Universiteitshospitaal in New York is ook sonder elektrisiteit gelaat nadat die kragopwekkers ook nie meer wou werk nie, het Michael Bloomberg, burgemeester van New York gesê. Nooddienspersoneel is tans besig om dié pasiënte na ander hospitale te skuif. “Ons skuif die pasiënte so gou as moontlik. Hopelik binne ‘n paar uur,” het Robert Grossman, dekaan van die New York Universiteit se mediese sentrum gesê.

Brandbestryders kon ook, weens hoë watervlakke, nie by ‘n brand in Chalker Beach, Connecticut, uitkom nie. Brandbestryders is oortuig dat niemand tydens die brand in die huis was nie, en dat die strand ook ontruim is. Niemand kon egter nog by die huis uitkom om dit te bevestig nie. “Die huis het totaal afgebrand,” het beamptes gesê. Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.