Orkaansterkte winde in Londen

Stuart Rowson van die BBC het dié foto in Didsbury, Manchester, geneem. Die pad is intussen weer skoongemaak.

Stuart Rowson van die BBC het dié foto in Didsbury, Manchester, geneem. Die pad is intussen weer skoongemaak.

Tienduisende Britte is Donderdag sonder elektrisiteit gelaat en minstens een man is dood weens orkaansterkte winde wat die Verenigde Koninkryk getref het.

Sowat 80 000 huise het nie elektrisiteit nie. Die land gaan ook boonop deur erge oorstromings gebuk. David Cameron, die eerste minister, word gekritiseer omdat hy glo nie mense in gebiede, waar vloede plaasgevind het, vinnig genoeg gehelp het nie.

Winde van tot 160 km/h het deur dele van Engeland en Wallis geruk en die Teems sal na verwagting op sekere plekke sy hoogste vlak in meer as 60 jaar behaal. Stede en dorpe wes van Londen word hierdeur geraak.

Een man is in Wiltshire in die suidweste van Engeland doodgeskok toe hy ʼn boom, wat omgeval en kragdrade afgetrek het, wou skuif.

Talle pendelaars is gestrand gelaat nadat oorhoofse kabels in Yorkshire, in die noorde van Engeland, geval het.

Die nasionale weerdiens het ʼn rooi waarskuwing vir “buitengewoon sterk winde” uitgereik vir die westelike dele van Wallis en noordwestelike dele van Engeland. Dit is die hoogste vlak van bedreiging.

Beamptes het gesê meer as 5 800 eiendomme is sedert die begin van Desember oorstroom. Weervoorspellers verwag ʼn verdere 70 mm reën teen Vrydag in die suidweste van Engeland.

Talle sokkerwedstryde in die premierliga moes ook gekanselleer word, aangesien die ondersteuners nie veilig sou kon reis weens die sterk winde en weerstoestande nie. Treine is gekanselleer en van die paaie is gesluit. -SAPA

Klik hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.