Oscar bring eerste aand buite selle deur

Oscar Pistorius Vrydag in die hof, voor hy gehoor het hy kry borg. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het sy eerste aand uit polisie-aanhouding deurgebring ná die tragiese Valentynsdag-skietery by sy huis in Pretoria. Sy meisie van die afgelope jaar, Reeva Steenkamp, is tydens die voorval doodgeskiet. Hy voer aan dit was ʼn ongeluk en dat hy gedink het sy was ʼn inbreker.

Die SAUK berig Pistorius het glo by sy oom se huis in Waterkloof oornag. Pistorius is vrygelaat nadat hy R100 000 van sy borgtog van R1 000 000 by die Brooklyn-polisiestasie betaal het. Hy moet die res van die geld voor 1 Maart betaal.

Landdros Desmond Nair het Vrydag tydens Pistorius se borgtogaansoek by die Pretoriase landdroshof bevind Pistorius is nie ʼn vlugrisiko nie. Hy het in sy 2 uur lange uitspraak gesê die staat het nie daarin geslaag om te bewys dat Pistorius ʼn gevaar vir die publiek inhou nie. Hy het ook gesê daar is baie gate in Pistorius se weergawe van die storie, maar dit sal in die hof en deur meer ondersoekwerk uitgeklaar word.

Pistorius is op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hy elke dag van die hofverrigtinge om 08:30 by die hof sal wees. Hy mag ook nie terugkeer na die moordtoneel, sy huis in die Silwer Woods-landgoed in die ooste van Pretoria, nie. Hy sal tuisgaan by ʼn adres wat nie aan die publiek bekend gemaak gaan word nie. Pistorius moet ook al sy paspoorte inhandig en mag nie vir enige paspoort of reisdokumente aansoek doen nie. Hy moet ook wegbly van lughawens en twee keer ʼn week tussen 07:00 en 13:00 by die Brooklyn-polisiestasie aanmeld. Hy moet ook sy vuurwapen inhandig en is verbied om enige vuurwapen aan te skaf. Sy borgtog sal opgeskort word as hy in enige gewelddadige misdrywe betrokke raak.

Steenkamp se gesin het na die uitspraak gesê hulle wil net hê die waarheid moet uitkom. Hulle het ook gesê hulle gaan nie die verhoor bywoon nie en niks sal hul dogter terugbring nie.

Pistorius se saak is tot 4 Junie uitgestel en sal as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius Buys ·

Sit mors non superbum
(Dood, wees nie trots nie)

Odin onderbo staar ons
hoe sy arcana 13 val.
“Sit mors non superbum”,
sy was, en dit was al.

Nou sit uil en raaf en arend,
oor die wit duif en die knal.
“Sit mors non superbum”,
krake in sy dyk se wal.

O boerekind van skoppe!
O krimpende heelal!
“Mors sit solum tristis”,
amen, amen, et al.

Kopiereg Marius Buys 2013

* Odin – Die gehangde man, is Tarrot kaart nr. 12 wat fiksasie aandui.
**Arcana 13 – Die Dood, is Tarrot Kaart nr. 13 wat die einde van iets aandui.
*** Die Uil (regter), raaf(beskuldigde), arend(aanklaer) en wit duif (oorledene asook onskuld)
****”Mors sit solum tristis” is Latyns vir: “Dood, treur slegs.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.