Oscar, familie hou gedenkdiens vir Reeva

Oscar Pistorius se broer en suster het Dinsdagaand ʼn private gedenkdiens vir Reeva Steenkamp bygewoon.

Carl en Aimee Pistorius het omstreeks 22:30 Dinsdagaand hul oom Arnold se huis in Waterkloof verlaat. Talle joernaliste het buite die huis uitgekamp. Veiligheidswagte is op die sypaadjie voor die huis ontplooi om verslaggewers weg te hou. “Oscar het spesifiek die gedenkdiens versoek aangesien hy steeds rou oor die verlies van Reeva,” het Vuma Reputation Management in ʼn verklaring gesê. “Aangesien dit so ʼn sensitiewe onderwerp is, het Oscar ʼn private diens versoek saam met mense wat sy verlies deel, insluitend familielede wat Reeva geken en liefgehad het as een van hul eie.”

Pistorius is tans uit op borgtog van R1 miljoen. Hy word daarvan aangekla dat hy op Valentynsdag vir Steenkamp in sy spoghuis in die Silwer Woods-landgoed, in die ooste van Pretoria, doodgeskiet het. Pistorius moet weer op 4 Junie in die hof verskyn.

Steenkamp is op 19 Februarie tydens ‘n private seremonie in Port Elizabeth veras. Steenkamp se ouers het vroeër bekend gemaak dat hulle hul eie regspan aangestel het om hul belange te beskerm. Mike Venter, prokureur, en senior advokaat Dup de Bruyn is deur die familie aangestel. Die gesin het gesê dit is ‘n baie traumatiese en hartseer tyd vir hulle. Hulle sê verder hulle verstaan die intense mediabelangstelling, maar het die media gevra om hul privaatheid te respekteer en gesê hulle sal vir eers nie enige onderhoude toestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.