‘Oscar het nie selfmoordneigings nie’

Oscar Pistorius verskyn in die Pretoriase landdroshof tydens sy borgaansoek. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius se oom, Arnold, het ontken dat sy broerskind selfmoordneigings het soos wat in oorsese media berig is maar het wel erken dat hy van sy bates begin verkoop het om sy regskoste te betaal.

“Van die oomblik wat ons die eerste keer ingelig is oor die tragiese gebeure van 14 Februarie 2013 het ons hard gewerk om vrede te maak met die hartseer nuus van Reeva Steenkamp se dood en Oscar se rol daarin,” het Arnold in ʼn mediaverklaring gesê. “Oscar, so gebroke as wat hy tans is, glo hy het ʼn doel in die lewe en hy werk daarna toe.” Pistorius se oom het bevestig dat Oscar van sy bates begin verkoop het om sy regskoste te betaal. “Terwyl die familie nie ontken dat Oscar se regskoste massief is en dat hy van sy beleggings soos sy renperde moes verkoop nie, sal hy sy geldelike situasie op ʼn daaglikse grondslag evalueer en besluite neem wanneer dit nodig is.” Arnold sê die familie is steeds vol vetroue dat daar bewys sal word dat die voorval ʼn tragiese ongeluk was wat talle mense se lewens vir altyd verander het. “Natuurlik sal Oscar nooit weer dieselfde wees nie omdat hy met die wete moet saamleef dat hy die dood van die vrou wat hy liefgehad het, veroorsaak het, maar hy hanteer dit so goed soos wat hy kan met die ondersteuning van sy geliefdes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.