Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal na verwagting 14:30 hoor of hy op borgtog vrygelaat gaan word of nie. Pistorius is sedert verlede Donderdag in polisie-aanhouding nadat hy sy meisie, die model Reeva Steenkamp, in sy huis doodgeskiet het. Sy borgaansoek het Dinsdag in die Pretoriase landdroshof begin. Die staat en verdediging het Vrydag hul slotverhore afgehandel waarop landdros Desmond Nair die hof laat verdaag het. Hy sal na verwagting 14:30 sy uitspraak lewer.
Die staat het aangevoer dat Pistorius nie op borgtog vrygelaat moet word nie, omdat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het en ʼn vlugrisiko is. Pistorius het dit egter in ʼn verklaring ontken en hou vol dit was ʼn ongeluk en dat hy Steenkamp as ʼn inbreker aangesien het.