Oscar Pistorius verskyn vandag in die Pretoriase landdroshof om vir borgtog aansoek te doen vir die moord op sy meisie Reeva Steenkmp, wat vandag veras gaan word.
Verskeie plaaslike en internasionale media instansies asook lede van die publiek het al van vroeg af by die hof begin saamdrom waar Oscar later gaan verskyn. Hy word, sedert hy verlede Donderdag op Valentynsdag vir Reeva in sy spoghuis in die Silver Woods-landgoed doodgeskiet het, by die Brooklyn-polisiestasie aangehou.
Die staat het laat weet dat hulle sy borg gaan teenstaan. Na verwagting gaan die staat aanvoer dat Oscar moord met voorbedagte rade gepleeg het. Die borgtogaansoek is vir twee dae geskeduleer.
Reeva se gedenkdiens vind om 11:00 by die Victoriapark-krematorium in Port Elizabeth plaas. Die diens is nie vir die media of vir die publiek oop nie.