Oscar jammer oor uitbarsting

Oscar Pistorius wens Alan Oliveira geluk na afloop van die wedloop. Foto: @sabrinaferri op Twitter

Oscar Pistorius, Suid-Afrika se bekende lemnaeler, het om verskoning gevra vir sy uitbarsting nadat hy Sondagaand tweede plek in die 200m-item by die Paralimpiese Spele behaal het.

Pistorius was duidelik geskok na hy met ʼn silwer medalje tevrede moes wees. Hy het Saterdag ʼn nuwe wêreldrekord opgestel in die 200m en is in Sondagaand se finaal deur Brasilië se Alan Fonteles Cardoso Oliveira geklop in ʼn tyd van 21,4 sekondes. “Ek het nog nooit iemand gesien wat van agt meter van die 100m merk voor my die wenstreep oorsteek nie,” het Pistorius na afloop van die resies gesê. Hy het veral sy kommer uitgespreek oor die langer prosteses wat deur Oliveira en ander atlete gebruik is.

Pistorius het Maandag in ʼn verklaring om verskoning gevra vir die tydsberekening van sy opmerkings. “Ek wil nie afbreuk doen aan ‘n ander atleet se oomblik van glorie nie en ek wil om verskoning vra vir die tydsberekening van my opmerkings. Dit was Oliveira se oomblik en ek wil my respek vir hom op die rekord stel,” het Pistorius gesê.

Pistorius het Sondagaand op sy Twitter-rekening geskryf: “Dankie vir die ondersteuning vanaand. Ek is tevrede met die resies wat ek gehardloop het. Ek is teleurgesteld dat ek nie my titel verdedig het nie. Baie geluk aan Alan”.

Graig Spence, die kommunikasie en mediadirekteur van die internasionale Paralimpiese komitee, het Sondagaand aangekondig dat Pistorius se besware ondersoek sal word. “Ek verwelkom die geleentheid om die saak met die komitee te bespreek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adriaan ·

Hoe kan dit toegelaat word. Kyk die verskil in die lengte van die prosteses. Om die draai is die langer prosetese nie van baie hulp nie maar op die reguit deel kan jy met die langer prostese baie langer tree gee. Ek dink dit moet verbied word. Dis erger as opkikkers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.