Oscar-moordsaak: Voormalige ondersoekbeampte Hilton Botha bedank uit polisie

Hilton Botha Foto: www.capitalbay.com

Die voormalige ondersoekbeampte van die Oscar Pistorius-moordsaak, ao. Hilton Botha, het vandag bevestig dat hy uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens bedank het.

Botha is onlangs deur die staat van Pistorius se saak verwyder nadat dit aan die lig gekom het dat hy tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord. Botha moet in Mei saam met twee ander polisiebeamptes in die hof verskyn. Die aanklagte hou verband met ʼn voorval in 2011 waar Botha en die twee ander beamptes glo onder die invloed van alkohol was toe hulle op ʼn minibustaxi losgebrand het. Die drie beamptes is ná die voorval in hegtenis geneem maar die saak is later deur ʼn landdros uitgegooi. Die direkteur van openbare vervolging het egter op 20 Februarie, tydens Pistorius se borgtogverhoor, besluit dat die beamptes weer aangekla moet word.

Botha het gesê die Pistorius-saak het baie druk op hom geplaas, maar dit is nie die aanvanklike rede hoekom hy bedank het nie. “Dit was dalk 10% van die rede, maar daar is ander faktore wat ook ʼn rol gespeel het,” het Botha aan JacarandaFM gesê.

Brig. Neville Malila, ʼn polisiewoordvoerder, sê Botha het Woensdag sy onmiddellike bedanking ingehandig. “Die redes daarvoor is persoonlik van aard,” het hy gesê.

“Botha was deel van die polisie vir 22 jaar. Ons verloor baie ondervinding, maar ons aanvaar sy persoonlike besluit,” het Malila bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.