Oscar-moordverhoor: Uitspraak voorbehou oor regstreekse uitsending

Oscar Pistorius Foto: ryanseacrest.com

Oscar Pistorius Foto: ryanseacrest.com

Uitspraak is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof voorbehou in mediahuise se aansoek om toestemming te bekom om Oscar Pistorius se moordverhoor regstreeks uit te saai.

Die aansoek is deur eNCA gebring en MultiChoice en Eyewitness News sluit daarby aan. Die mediahuise wil ook die verrigtinge regstreeks op klankbane uitsaai en foto’s neem tydens die verhoor.

Regterpresident Dunstan Mlambo het gesê hy sal volgende Dinsdag om 11:00 uitspraak oor die aansoek lewer.

Frank Snyckers, vir MultiChoice en EWN, het gedurende die aansoek gesê dat gevorderde tegnologiese toerusting gebruik sal word wat nie steurend sal wees nie en van ʼn afstand af beheer kan word.

“Die wêreld se oë sal reeds op Suid-Afrika se kriminele regstelsel wees. Beginsels van openbare geregtigheid en die reg tot vryheid van uitdrukking is deel van die reg op ‘n regverdige verhoor,” het Snyckers gesê. “Die regter kan ook die mag gegee word om in enige stadium die opnames te staak.”

Snyckers het aan die hof gesê indien toestemming verleen word om die verhoor te verfilm, sal MultiChoice die volle verhoor ongeredigeerd uitsaai. Hy het egter gesê getuies wat nie hul toestemming verleen nie, sal nie verfilm word nie.

Pistorius se regspan het die aansoek teengestaan en aangevoer dat dit tot ʼn onbillike verhoor kan lei indien die hofverrigtinge regstreeks uitgesaai gaan word. Barry Roux, Pistorius se prokureur, het gesê dat media-aktiwiteite verskeie aspekte van die verhoor kan beïnvloed.

“Hoekom kan dit nie soos enige ander verhoor verloop nie? Hoekom is hy [Pistorius] anders? Is dit omdat hy vinnig op die atletiekbaan gehardloop het?” het Roux in die hof gevra. “Beteken dit as jy ʼn bekende persoon is, dat daar inbreuk op jou regte gemaak kan word?”

Mlambo het Roux daaraan herinner dat Pistorius ʼn publieke figuur is. Mlambo wou by Roux weet hoe die media se teenwoordigheid Pistorius se saak kan beïnvloed. “Daar is ʼn verskil om te weet joernaliste luister na jou en om te weet die hele wêreld luister na jou,” het Roux geantwoord.

Hy het ook aangevoer dat Reeva Steenkamp se ouers nie deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingelig is dat die NVG die regstreekse uitsending van die verhoor voorwaardelik ondersteun nie.

Hy het die hof gewaarsku om nie toe te laat dat die hofsaak in ʼn “mediaverhoor” ontaard nie. – SAPA

Lees ook:
Oscar Pistorius-verhoor: Mediahuise stel hul saak
Aansoeke om Oscar-saak uit te saai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.