Oscar: Niks ondersteun inbraak-verweer nie, sê aanklaer

Oscar verlaat Vrydag die hof. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die staat het Dinsdag tydens Oscar Pistorius se borgaansoek in die Pretoriase landdroshof gesê daar is geen moontlike inligting wat Oscar se weergawe ondersteun dat hy Reeva Steenkamp as ʼn inbreker aangesien het nie.

Adv. Gerrie Nel het sy saak voor landdros Desmond Nair gestel terwyl ʼn erg emosionele Oscar in die beskuldigdebank in trane uitgebars het.

Nel het voor ʼn stampvol hof gesê Reeva, wat verlede Donderdag in Oscar se spoghuis doodgeskiet is, het reeds die vorige aand omstreeks 18:00 by sy huis aangekom. Hy sê daar was net twee mense in die huis en dat Reeva haar oornagsak en haar kosmetiese sakkie in die badkamer gehad het.

Hy het gesê Reeva is drie keer deur ʼn geslote badkamerdeur geskiet en dat die deur van buite af oopgebreek is, wat aandui dat die deur gesluit was. “Reeva se liggaam is van die badkamer na die grondvloer gedra. Oscar het toe aan ʼn vriend gesê hy het gedink sy was ʼn inbreker. Hoekom sou ʼn inbreker homself in ʼn badkamer toesluit?” het Nel gevra. “Ons sê dit op sigself dui op moord met voorbedagte rade,” het Nel gesê.

Adv. Barry Roux, Oscar se prokureur, sal nou sy saak stel waarom borg aan Oscar toegestaan moet word.

Die verhoor duur voort.

Lees ook:
Oscar: Moord was nie beplan nie, sê verdediging

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.