Oscar: Opskudding en omstredenheid oor langer prostese

Sien ook Oscar jammer oor uitbarsting.

Pistorius tydens sy uitdun Saterdag. Foto: @London2012

Oscar Pistorius was duidelik geskok na hy gisteraand met die tweede plek tevrede moes wees in die 200m finaal (klas T44).

Pistorius, wat Saterdag ʼn nuwe wêreldrekord opgestel het in die 200m klas T43 uitdunne, is in Sondagaand se finaal deur Brasilië se Alan Fonteles Cardoso Oliveira geklop in ʼn tyd van 21,4 sekondes. “Ek het nog nooit iemand gesien wat van agt meter van die 100m merk voor my die wenstreep oorsteek nie,” het Pistorius na afloop van die resies gesê. Pistorius was ver voor toe Oliviera hom skielik ingehaal het en die wenstreep eerste oorgesteek het. Pistorius het vroeër en na afloop van die resies sy kommer uitgespreek oor die langer prosteses wat deur Oliveira en ander atlete gebruik word maar sê daar is niks wat hy daaraan kan doen nie aangesien dit deur die internasionale paralimpiese komitee (IPC) toegelaat word. “Natuurlik is ek ontsteld, ek het nog nooit ʼn 200m resies in my lewe verloor nie. Daar was nog nooit ʼn ander paralimpiese atleet om die resies in 21 sekondes te hardloop nie, wat nog te sê 21,4. Ons weet nou al vir sowat ʼn maand van die langer prosteses en ek het dit met die IPC bespreek maar daar is niks daaroor gedoen nie.” Graig Spence, die kommunikasie en media direkteur van die IPC, het gisteraand aangekondig dat Pistorius se besware ondersoek sal word.

Suid-Afrika se Arnu Fourie het vierde geëindig, in ‘n tyd van 22,49 sekondes. Dit is ʼn nuwe wêreldrekord in die klas T44 (enkelamputasie onder die knie).

Charl Bouwer het gister Suid-Afrika se ander medalje vir die dag ingepalm nadat hy tweede gekom het in die 100m-vryslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.