Oscar Pistorius-moordsaak: Beperkte spasie in hof

Media buite die hof Foto: @ewnreporter op Twitter

Daar is nie genoeg spasie in die Pretoriase landdroshof vir al die geakkrediteerde lede van die media om Oscar Pistorius se hofsaak Dinsdagoggend by te woon nie.

Hofbeamptes het net voor 07:00 aan verslaggewers buite die hof gesê daar is 90 geakkrediteerde name van media op ʼn lys, maar daar is slegs plek vir 60 mense in die hofsaal.

Die aantal nuusspanne het sedertdien buite die hof toegeneem, waar Pistorius vir sy voor-moordhofsaak sal verskyn. Sekuriteitswagte het die name van verslaggewers gelees voordat hulle in die hof toegelaat is.

Pistorius se broer Carl, en sy suster Aimee het reeds in die hof gewag.

Haweloses buite die hof was verras deur die aantal joernaliste en tegniese spanne wat buite die hof staan en wag het.

Die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling het verlede week in ʼn verklaring gesê die saak sal Dinsdag uitgestel word.

Pistorius word van moord met voorbedagte rade aangekla nadat sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie in sy huis in Silver Lakes doodgeskiet is.

Tydens die borgverhoor in Februarie het Pistorius se verdedigingspan aangevoer dat hy Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien het. Hy is op 22 Februarie op borg van R1 miljoen en streng voorwaardes vrygelaat. Hy het appèl aangeteken teen dié voorwaardes en was suksesvol met die aansoek.

Arnold Pistorius, Oscar se oom, het Sondagaand gesê ʼn foto van die badkamer waar Steenkamp doodgeskiet is en aan die media uitgelek is, het die familie “geskok”. Die foto is Vrydag op SkyNews se webwerf publiseer. Klik hier vir meer inligting.

Brig. Phuti Setati, nasionale woordvoerder vir die polisie, het gesê die polisie kan nie kommentaar lewer oor die foto nie, aangesien hulle nie weet hoe SkyNews dit in die hande gekry het nie.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.