Oscar Pistorius-moordverhoor: Verdoemende bewyse glo uitgelek

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die staat het glo 13 verdoemende feite om te bewys dat Oscar Pistorius daaraan skuldig is dat hy beplan het om Reeva Steenkamp dood te skiet, het EWN Vrydag berig.

Dit het aan die lig gekom nadat die staat glo hofstukke ʼn week voor Pistorius se verhoor na verskeie mediahuise uitgelek het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ontken egter dat hulle die dokumente uitgelek het. “Ons kan nie kommentaar lewer oor iets waarvan ons nie weet nie, ons weet nie hoe die hofdokumente uitgelek is nie,” het Medupi Simasiku, ʼn woordvoerder van die NVG, Vrydag gesê. “Dit was nie deur ons uitgelek nie, en ons weet nie hoe die mediahuise hulle hande daarop gelê het nie.”

Volgens EWN bestaan die feite wat die staat gaan aanvoer uit verklarings van bure, ʼn forensiese analis wat op die toneel was, die nadoodse ondersoek en ballistiese toetse van die badkamerdeur waardeur Steenkamp geskiet is, asook die vuurwapen wat gebruik is.

Die uitsaaier berig “volgens dokumente” gaan staatsaanklaer Gerrie Nel glo vyf getuies laat getuig wat ʼn rusie en ʼn vrou se gille en kreune gehoor het tydens die skietvoorval verlede jaar op 14 Februarie by Pistorius se huis in die ooste van Pretoria.

Die staat gaan argumenteer dat die hoeveelheid skote, die trajek-vasstelling en groepering van die koeëlgate deur ‘n geslote deur, net daarop kan dui dat Pistorius ‘n direkte bedoeling gehad het om te moor. Nel sal ook glo argumenteer dat die atleet se optrede daardie aand ver verwyder is van dié van ‘n persoon wat dink dat daar ‘n inbreker in sy huis is.

eNCA berig Pistorius het heel moontlik nie sy prostetiese bene gedra toe die skote gevuur is nie, en dat dit staat se saak ondermyn dat die moord met voorbedagte rade gepleeg is.

Volgens eNCA het aanklaers verlede jaar aangevoer dat Pistorius sy prostetiese bene aangesit het, na die badkamer geloop, homself teen die wasbak geposisioneer en toe die skote afgevuur het wat hy weet Steenkamp se dood sou beteken.

Volgens die dokumente in eNCA se besit bevestig die staat dat sy eie ballistiese kenners Pistorius se weergawe, dat hy nie sy prostese aangehad het nie, ondersteun.

Die kenners glo ook dat Pistorius van ʼn afstand verder as 60cm van deur af was, maar nader as 1.5 meter, soos aanvanklik deur die polisie beweer is.

Die staat se bewyse dui ook daarop dat Steenkamp in die toilet gestaan het, met haar gesig na die deur, wat teenstrydig is met berigte dat sy op die toilet gesit het toe sy geskiet is. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.