Oscar Pistorius-verhoor: Familie skep Twitter-rekening

Die Twitter-profiel vir Oscar Pistorius

Die Twitter-profiel vir Oscar Pistorius

Oscar Pistorius se woordvoerder het Maandag bevestig dat ʼn Twitter-rekening genaamd @OscarHardTruth geskep is om as die familie se amptelike kommunikasiekanaal te dien tydens sy moordverhoor in Maart.

Op die profielbanier van die rekening is daar ʼn foto van Pistorius met die woorde: “Die waarheid sal seëvier. Onskuldig tot skuldig bewys.”

Anneliese Burgess, Pistorius se mediabestuurder, het gesê sy en lede van die familie sal dié rekening bedryf.

Volgens die eerste paar tweets op die rekening sal dit gebruik word om inligting te deel oor moontlike inligtingsessies en mediaverklarings en om soms duidelikheid te skep wanneer dit nodig is.

Die rekening sal glad nie op individuele vrae reageer nie, en is slegs ʼn toevoeging tot Pistorius se webwerf, oscarpistorius.com. Dié webwerf sal ook tydens die verhoor gebruik word om feitelik te berig. “Ons sal die waarheid aanspreek en diegene ontbloot wat bybedoelings het. Die waarheid sal seëvier,” lui een van die tweets.

Pistorius se moordverhoor begin op 3 Maart. Hy word daarvan verdink dat hy sy meisie, die model Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 in die badkamer van sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Pistorius voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Verskeie mediahuise het Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof aansoek gedoen om gevorderdetegnologie-toerusting te gebruik om die moordverhoor regstreeks uit te saai. Die hof sal môre bepaal of die verhoor wel regstreeks uitgesaai mag word.

Lees ook:
Oscar Pistorius: NVG swyg oor pornografie-berig
Oscar Pistorius-moordverhoor: Verdoemende bewyse glo uitgelek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.