Oscar Pistorius-verhoor: Mediahuise stel hul saak

Oscar Pistorius Foto: SAPA

Oscar Pistorius Foto: SAPA

Verskeie mediahuise het Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof aansoek gedoen om gevorderde tegnologiese toerusting te gebruik om Oscar Pistorius se moordverhoor regstreeks uit te saai.

Die aansoek is deur eNCA gebring en MultiChoice en Eyewitness News (EWN) sluit daarby aan. Frank Snyckers, vir MultiChoice en EWN, het gesê dat die toerusting nie steurend sal wees nie en van ʼn afstand af beheer kan word.

Hy het gesê die mediahuise het die ondersteuning van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Die wêreld se oë sal reeds op Suid-Afrika se kriminele regstelsel wees. Beginsels van openbare geregtigheid en die reg tot vryheid van uitdrukking is deel van die reg op ‘n regverdige verhoor,” het Snyckers gesê. “Die regter kan ook die mag gegee word om in enige stadium die opnames te staak.”

Snyckers het aan die hof gesê indien toestemming verleen word om die verhoor te verfilm, sal MultiChoice die volle verhoor ongeredigeerd uitsaai. Hy het egter gesê getuies wat nie hul toestemming verleen nie, sal nie verfilm word nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Dinsdag gesê hy sal nie die aansoek teenstaan nie. Nathi Mncube, woordvoerder vir die NVG, het aangedui dat die NVG wel ʼn paar voorwaardes gaan stel, maar Mncube wou nie dié voorwaardes bekend maak nie.

Pistorius se regspan gaan na verwagting die media se aansoek teenstaan. Die saak duur voort. – SAPA

Lees ook:
Aansoeke om Oscar-saak uit te saai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.