Oscar Pistorius: Voorwaardes vir regstreekse uitsending

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag verskeie voorwaardes aan mediahuise gestel wat die moordverhoor van Oscar Pistorius regstreeks gaan uitsaai.

Regter Duncan Mlambo het beslis dat gedeeltes van die verhoor, wat Maandag afskop, regstreeks deur die media gebeeldsend mag word, insluitend die opening- en sluitingsargumente.

“MultiChoice en Primedia word toegelaat om namens die staat en die verdediging die openingargumente uit te saai. Hulle mag ook die bewyse van al die kenners wat deur die staat geroep word om te getuig uitsaai, met die uitsondering van die beskuldigde se getuienis en die verdediging s’n,” het Mlambo gesê.

“Die getuienis van enige polisiebeampte of voormalige polisiebeampte wat verband hou met die moordtoneel, en enige ander getuie wat die staat roep om te getuig, mag nie verfilm of regstreeks uitgesaai word nie, tensy die betrokke staatsgetuie daartoe instem.”

Hy het gesê die sluitingsargumente van die staat en Pistorius se regspan, die uitspraak, en indien van toepassing, die vonnisoplegging, mag ook uitgesaai word.

Die aansoek is deur eNCA gebring en MultiChoice en Eyewitness News (Primedia) sluit daarby aan.

Mlambo het gesê getuies sal die reg hê om “redelike voorwaardes” aan die uitsaaiers te stel, soos om hul gesigte te verduister of om slegs wye skote van hulle te neem.

“Besware deur getuies oor die klank- en visuele opnames oor hul getuienis moet skriftelik aan die direkteur van openbare vervolging en die beskuldigde se regspan gerig word.” Hy het gesê besware moet ten minste 24 uur voor die betrokke getuienis by die waarnemende regterpresident ingehandig word om te verseker die verhoor word nie vertraag nie.

Hy het verder toestemming gegee dat gevorderde uitsaaitoerusting om beeldmateriaal en klankgrepe te bekom, opgerig mag word in die hofsaal waar die verhoor gaan plaasvind.

“Die toerusting bestaan uit drie televisiekameras. Dit moet ten minste 72 uur voor die verhoor begin, opgerig word. Die kameras moet opgerig word op plekke waar dit nie steurend is nie. Dié kameras sal van ʼn afstand af beheer word en geen kameraoperateurs sal in die hofsaal toegelaat word nie. Die toerusting mag nie enige vertroulike kommunikasie tussen regsverteenwoordigers, kliënte en hul verteenwoordigers, of enige samesprekings tussen die regter en assessore afneem nie.”

Hy het gesê die waarnemende regter sal spesifiek bepaal wanneer opname moet begin en wanneer dit moet ophou. Geen filmbeligting, flitse of kunsmatige beligting gaan in die hofsaal toegelaat word nie.

MultiChoice en EWN het verlede week voorgestel om die gevorderde, hoëdefinisie-afstandbeheerde kameras te gebruik om beeldmateriaal aan alle uitsaaiers te verskaf.

Vir die gedrukte media het Mlambo toegelaat dat twee kameras op vaste plekke in die hofsaal opgestel word om foto’s te neem. “Hierdie twee kameras sal deur een van die aansoekers se verteenwoordigers beman word terwyl die hof in sitting is. Geen lense mag verander word terwyl die hof in sitting is nie.”

Mlambo het gesê as die waarnemende regter enigsins bewus word dat toerusting Pistorius se reg op ʼn billike verhoor in gedrang bring, die regter daarop kan aandring dat alle verfilming gestaak word.

MultiChoice het onlangs aangekondig dat hulle vanaf 2 Maart ʼn 24-uur DStv-kanaal gaan bekend stel wat dekking gaan bied aan Pistorius se moordverhoor. Dit sal op kanaal 199 uitgesaai word. Die kanaal staan bekend as The Oscar Pistorius Trial: A Carte Blanche Channel en dit gaan ook eksklusiewe dokumentêre en in-diepte analise van kenners uitsaai. Die vervaardigers van Carte Blanche behartig die kanaal. Die verhoor sal na verwagting tot 20 Maart voortduur. Leigh Bennie, wat ʼn deelnemer was van die eerste Big Brother South Afrika, sal een van die kanaal se aanbieders wees. Lees meer hier.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.