Oscar: R1 miljoen borg en voorwaardes

Adv. Barry Roux Vrydag in die hof. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius is Vrydag op borgtog van R1 miljoen vrygelaat. Hy moes R100 000 betaal om vrygelaat te word en moet die res van die geld voor 1 Maart inbetaal.

Landdros Desmond Nair het Vrydag tydens Pistorius se borgtogaansoek by die Pretoriase landdroshof bevind Pistorius is nie ʼn vlugrisiko nie. Hy het in sy 2 uur lange uitspraak gesê die staat het nie daarin geslaag om te bewys dat Pistorius ʼn gevaar vir die publiek inhou nie. Hy het ook gesê daar is baie gate in Pistorius se weergawe van die storie, maar dit sal in die hof en deur meer ondersoekwerk uitgeklaar word.

Pistorius is op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hy elke dag van die hofverrigtinge om 08:30 by die hof sal wees. Hy mag ook nie terugkeer na die moordtoneel, sy huis in die Silwer Woods-landgoed in die ooste van Pretoria, nie. Hy gaan tuisgaan by ʼn adres wat nie aan die publiek bekend gemaak gaan word nie. Pistorius moet ook al sy paspoorte inhandig en mag nie vir enige paspoort of reisdokumente aansoek doen nie. Hy moet ook wegbly van lughawens en twee keer ʼn week tussen 07:00 en 13:00 by die Brooklyn-polisiestasie aanmeld. Hy moet ook sy vuurwapen inhandig en is verbied om enige vuurwapen aan te skaf. Sy borgtog sal opgeskort word as hy in enige gewelddadige misdrywe betrokke raak.

Adv. Gerrie Nel, vir die staat, het gesê hulle het ooreengekom op die borgtogvoorwaardes.

Pistorius word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in sy spoghuis in die Silver Woods-landgoed, in die ooste van Pretoria, doodgeskiet het. Die staat het in ʼn poging om borg teen te staan, aangevoer dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het. Pistorius het dit egter ontken en gesê Steenkamp se dood was ʼn ongeluk en dat hy gedink het ʼn inbreker is in sy huis.

Sy saak is tot 4 Junie uitgestel en sal as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marietjie Roux ·

Dit kon my seun gewees het, ek sou ook vir sy lewe geveg het! Hy het berou. Jammer vir Reeva se familie, foeitog!

annelise ·

So jammer vir Reeva se familie. Haar familie is geroof. Dankbaar dat Oscar borgtog gekry het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.