Oscar-saak: Verdediging sê polisie het toneel besmet

Oscar se huisplan word nagegaan. Die foto is deur @kristenvanschie op Twitter gelaai.

Oscar Pistorius se regsverteenwoordiger het die polisie Woensdag daarvan beskuldig dat hulle die toneel besmet het terwyl hul die skietdood van Reeva Steenkamp ondersoek het.

Adv. Barry Roux, het gedurende Pistorius se borgaansoek in die landroshof in Pretoria, die ondersoekbeampte in die saak, ao. Hilton Botha, daarvan beskuldig dat hy sonder beskermende oortreksels oor sy skoene in Pistorius se huis rondgeloop het. Botha het toegegee dat hy die oortreksels moes aanhê maar sê dit was nie beskikbaar nie. Roux het verder ontken dat Pistorius ʼn huis in Italië besit, soos wat die staat vroeër beweer het in ʼn poging om aan te voer dat Pistorius ʼn vlugrisiko is. Roux het Botha sover gekry om te erken dat hy nie kan bewys dat Pistorius sy prostese aangesit het voor die skietery nie. Volgens Roux het die verdediging ʼn span deskundiges by Pistorius se huis ingestuur na die polisie se ballistiese deskundiges klaar die huis gefynkam het. Roux sê hulle het ʼn koeëlpunt in die toiletbak gevind wat nie deur die polisie se deskundiges gevind is nie. Botha het gesê hy weet daarvan.

Die staat hou intussen vol dat hy ʼn sterk saak teen Pistorius het. Medupi Simasiku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die ondersoekbeampte is nie tydens die verdediging se kruisondervraging “gediskrediteer” nie. “Dit is normaal dat kruisondervraging so plaasvind. Die borgaansoek duur voort maar ons is seker dat ons sal kry wat ons wil hê.” Die staat staan borg teen. Pistorius se borgaansoek duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.