Oscar se broer in hof

Carl Pistorius in die Pretoriase landdroshof tydens sy broer Oscar se borgaansoek. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius se broer, Carl, sal na verwagting vandag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op aanklag van strafbare manslag.

Die aanklagte hou verband met ʼn ongeluk in 2008 waartydens ʼn 36-jarige vrou gesterf het. Carl het Marietjie Barnard glo van haar motorfiets af gery en sy is enkele dae na die ongeluk oorlede. Kenny Oldwage, die Pistorius-familie se regsverteenwoordiger, het vroeër in ʼn verklaring gesê Carl is na die ongeluk van strafbare manslag aangekla maar dat die aanklagte later deur die staat teruggetrek is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het egter later besluit om weer die klagte teen hom te bring. Oldwage sê daar is “geen twyfel dat Carl onskuldig is nie” en dat hulle die aanklagte in die hof sal beveg. “Carl het diep berou oor die ongeluk. Bloedtoetse wat na die ongeluk deur die polisie gedoen is, het bewys dat hy nie onder die invloed van alkohol was nie en dat dit ʼn tragiese ongeluk was.” Carl se verskyning kom ʼn dag voordat Oscar se appèl teen sekere van sy borgtogvoorwaardes in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word. Oscar word aangekla van die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentynsdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.