Oscar se eerste aandjie uit

Oscar Pistorius

Oscar Pistorius het vir die eerste keer, sedert hy van die moord op Reeva Steenkamp aangekla is, in die openbaar saam met sy vriende gekuier.

Die Sunday Times berig dat Pistorius verlede Saterdag by ‘n partytjie by Kitchen Bar-restaurant in die Fourways Design Quarter in Johannesburg opgedaag het. Anneliese Burgess, woordvoerder vir die Pistorius-familie, het aan die koerant gesê dit is die eerste keer wat die Paralimpiese atleet saam met vriende uitgegaan het, maar dat hulle die Kitchen Bar verlaat het toe die “openbare belangstelling te veel geword het”.

“Hy het al saam met die gesin uitgegaan, maar dit is die eerste keer wat hy na ‘n restaurant is sonder nabye familielede,” het Burgess gesê. “Vir Oscar was dit ‘n manier om weer saam met sy eie en Reeva se vriende te kuier.”

Volgens die Sunday Times is Pistorius van Kitchen Bar na Buddha Ta, waar hy 30 minute spandeer het voor hy vertrek het.

Pistorius is op 22 Februarie op borg vrygelaat ná die skietvoorval op 14 Februarie. Sy streng borgvoorwaardes, wat ‘n verbod op internasionale reis en alkoholverbruik ingesluit het, is later in die Pretoriase hooggeregshof verslap.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.